Dokumentêr.

Verteller: Matt Damon.

Regie: Charles Ferguson.

2010. 104 min.

O.

Rating: 4/5

Die onlangse wêreldwye resessie het die hele wêreld laat steier. In Amerika het honderdduisende mense hul huis en werk verloor. Wat het skeefgeloop, en hoe kon dit gebeur het?

Hierdie uitmuntende dokkie verduidelik finansiële vaktaal op ’n manier wat almal kan verstaan.

Dit wys hoe die ongebreidelde groei van die Amerikaanse finansiëledienstebedryf sedert die 80’s die banke soveel politieke mag laat kry het dat hulle die bedryf kon dereguleer tot hulle kon maak nes hulle wil.

Gou het bestuurders reuse kommissie verdien vir die verkope van totaal riskante finansiële “produkte” wat hulle as uitstekende beleggings bemark het.

Só het hulle ’n rykdomborrel geskep wat eenvoudig móés bars.

En toe die hele kaartehuis intuimel en triljoene dollars verlore raak, het die Amerikaanse regering hulle gered – terwyl gewone mense die spit moes afbyt.

Nog erger: Die Obama-regering het nog niks gedoen om seker te maak dat dit nie weer gebeur nie.

Dis ’n moet vir enigeen wat wil weet waarom die wêreld nou lyk soos dit lyk.

Bonus: kortfliek, uitgesnyde tonele, kommentaar.