Fantasie-komedie.

Met Jack Black, Emily Blunt, Jason Segel en Chris O’Dowd.

Regie: Rob Letterman.

2010.

81 min.

OG.

Ons dink: 2/5

LEMUEL GULLIVER (Black), ’n posman by ’n koerant, kul vir hom ’n pos as reisskrywer los om ’n sexy redakteur (Amanda Peet) te beïndruk.

Hy word na die Bermuda-driehoek gestuur waar, kan jy dit nou glo, geheimsinnige goed gebeur. Dan raak hy gestrand op ’n eiland waar miniatuurmensies in 18de-eeuse uitrustings hom gevange hou.

In die tronk maak Gulliver met ’n man uit die burgerstand (Segel) vriende. Dié is op die prinses (Blunt) verlief, maar haar verloofde, die bose Edward (O’Dowd), het hom in die tronk gestop.

Kan Gulliver die eilandbewoners van hul strydlustige bure red, die liefdesduifies bymekaarbring, Edward verslaan en sy redakteur se hart wen? O, en op die ou end op ’n eiland vol reuse beland?

Maar wie gee regtig om? Die van-posman-tot-reisskrywer-deel van die storie is nog meer vergesog as die res.

Maar O’Dowd is skreeusnaaks as die skurk, en as Black se komiese kaskenades in jou smaak val, kyk gerus dié moderne weergawe van die klassieke verhaal.

Bonus: kortflieks, uitgesnyde tonele.