Fantasie-aksie.

Met Ryan Reynolds, Blake Lively, Peter Sarsgaard en Mark Strong.

Regie: Martin Campbell.

2011. 109 min.

13OGT.

Rating: 2/5

In ’n jaar tjokvol superheldflieks kry nog ’n strokieskarakter sy eie lokettreffer. Ongelukkig is hierdie simpel sameflansing van rekenaarbeelde ’n gids oor hoe om dit nie te doen nie.

Die parmantige toetsvlieënier Hal (Reynolds) vernietig ’n vliegtuig en jaag sy medevlieënier Carol (Lively) die harnas in.

Dan kom hy op die wrakstukke van die skip van ’n ruimtewese af wat vir hom ’n ring gee. Dié sê hy is nou deel van die Green Lantern-korps wat die vrede in die heelal bewaar.

Eers is hy nie lus vir die verantwoordelikheid nie, maar toe ’n reuse geel klont vrees (ja, regtig!) die aarde bedreig, moet Hal ingryp.

Die Green Lantern is dalk ’n wonderlike karakter, maar dan laat dié stroperige fliek nie aan hom reg geskied nie. Hal vorder binne vyf minute van leeglêer tot held, die dialoog is verskriklik en die skurk lagwekkend.

Die fliek voel meestal soos ’n vaal, generiese nabootsing van ander, beter flieks.

Volg Huisgenoot op Twitter.