Romantiese komedie.

Met Justin Timberlake, Mila Kunis en Patricia Clarkson.

Regie: Will Gluck.

2011. 109 min.

16TS.

Ons dink: 4/5

Soms wonder ’n mens of die romantiese komedie as genre nog iets nuuts kan oplewer. Hoeveel keer kan ’n ou en ’n meisie tussen wie daar ’n vonk is, uitmaak en weer opmaak? Maar dis nie die punt nie.

Romantiese komedies is daar om ons die leuens te help glo wat Hallmark-kaartjies en oppervlakkige liefdesromans ons voortdurend vertel.

Justin Timberlake en Mila Kunis kwyt hulle uitstekend van hierdie taak. Hy is ’n nuweling in New York, sy maak hom touwys en hulle wil net vriende met voordele wees, maar dit raak ingewikkeld.

Dit is die volmaakte resep vir ’n romantiese komedie, maar in baie soortgelyke flieks val dit plat weens ’n swak draaiboek of middelmatige spel.

Hierdie keer het die draaiboek genadiglik skop, en Timberlake en Kunis se benadering tot hul karakter is verfrissend en uitdagend.

En dit is iets wat min ander romantiese komedies werklik is: snaaks. Gaan hulle by mekaar uitkom? Jy ken die antwoord.

Volg Huisgenoot op Twitter.