Ware lewensdrama.

Met Naomi Watts en Sean Penn.

Regie: Doug Liman.

2010. 103 min.

13T.

Ons dink: 4/5

Die CIA-spioen Valerie Plame Wilson (Watts) se persoonlike én beroepslewe kom in die gedrang toe haar man, Joe (Penn), ’n koerantartikel skryf waarin hy Ame­rika se redes vir die inval in Irak weerlê.

Die regisseur, Dough Liman (The Bourne Identity), se politieke spanningsdrama beeld Valerie se lewe in die maande ná 9/11 uit, toe sy inligting oor Irak se kernwapenprogram moes inwin.

Joe, ’n voormalige ambassadeur, word daarby betrek. Ondanks hul bevindinge val Amerika Irak binne, sogenaamd omdat die land wapens van massavernietiging het.

Watts en Penn lewer sterk spel as ’n paartjie wie se lewe in chaos gedompel word toe ’n Withuis-amptenaar uit wraak haar identiteit as CIA-agent laat uitlek – en haar huwelik, geloofwaardigheid en geheime operasies in die Midde-Ooste in gevaar stel.

Fair Game is knap en spannend en die verhaal oor gebeure met internasionale gevolge word ewe goed vertel as die individue s’n.

Bonus: Kommentaar deur die werklike Valerie Plame Wilson en Joe Wilson.

Volg Huisgenoot op Twitter.