Komedie.

Met Robert Downey jr. en Zach Galifianakis.

Regie: Todd Phillips.

2010. 91 min.

16GT.

Ons dink: 3/5

In hierdie komedie op die lang pad snoer The Hangover se bebaarde ster, Zach Galifianakis, weer kragte met die regisseur Todd Phillips saam en Robert Downey jr. word by die wenkombinasie gevoeg.

Tog is dit nie die luidrugtige vuilbekjuweel wat The Hangover was nie, en kom dit die goedige gekheid kort van Phillips se vroeëre Will Ferrell-fliek, Old School.

Nes in die klassieke 80’s-fliek Planes, Trains and Automobiles reis ’n onpaar paar saam – Ethan (Galifianakis), ’n eksentrieke, daggarokende aspirant-akteur, en Peter (Downey jr.), ’n liggeraakte argitek wat by die huis probeer uitkom, want sy vrou gaan binnekort kraam. Hulle redekawel, smee ’n band, maar ontstel mekaar meestal op hul reis dwarsoor Amerika.

Wanneer Galifianakis en Downey jr. se kwinkslae werk, is hulle skitterend saam, maar die grappe is veel yler gesaai as in The Hangover.

Byspelers soos Jamie FoxxJuliette Lewis, Danny McBride en Phillips kwyt hulle nietemin uitstekend van hul taak.

Bonus: uitgesnyde tonele.