Aksie.

Met Nicolas Cage, Amber Heard en William Fichtner.

Regie: Patrick Lussier.

2011.

100 min. 18TSGN.

Ons dink: 3/5

Milton (Cage) is ’n geharde misdadiger en ontsnap uit die hel om die leier van ’n satanistiese kultus(Billy Burke) op te spoor.

Dié het sy dogter vermoor en haar pasgebore baba ontvoer. Boonop is hy in ’n stryd teen tyd gewikkel, want oor drie dae sal sy kleinkind die slagoffer van ’n ritualistiese moord word.

Hy hark ’n supersexy, rateltaai kelnerin (Heard) nader om hom te help, maar dan verskyn ’n onvoorspelbare moordenaar, The Accountant (Fichtner), op die toneel om Milton na die dieptes van die hel terug te sleep.

Dis beslis nie Cage se beste oomblik nie. Die draaiboek is power en die spel middelmatig. Maar Heard is ’n lus vir die oog wanneer sy in ’n Daisy Duke-kortbroek paradeer en daar’s hope aksie en ’n paar indrukwekkende motors.

Maar wees gewaarsku: Alles draai nie net om motors en ’n dolle gejaag nie. En as bloed en derms jou naar maak, hou verby.