Romantiese komedie.

Met Steve Carell, Ryan Gosling, Julianne Moore, Emma Stone en Marisa Tomei.

Regie: Glenn Ficarra.

2011. 113 min.

13T.

Ons dink: 3/5

Hierdie vrolike fliek met vele verweefde intriges wat op die ou end saamvloei, probeer meer realisties wees as die deursnee romantiese komedie, maar swig eindelik voor die gehoor se verwagtings.

Die kollig val op Cal (Carell), wie se vrou (Moore) van hom wil skei. Sy wêreld stort in duie tot hy Jacob (Gosling) ontmoet. Dié gladdebek-rokjagter leer hom by vroue aanlê.

Maar Jacob se sjarme het geen uitwerking op Hannah (Stone) nie, ’n ambisieuse sakevrou wat geduldig wag dat haar sagmoedige kêreld haar die jawoord vra.

Carell is bekoorlik pateties en Stone volmaak as die meisie wat baie vroue graag wil wees: mooi, parmantig en bestand teen die stoute seun se sjarme. Juis daarom swig hy voor haar.

Haar tonele saam met Gosling smeul en dis heerlik om te sien dat hy homself nie meer so ernstig opneem nie.

’n Oulike, snaakse rolprent met wonderlike akteurs, maar ongelukkig niks vindingryks nie.

Bonus: uitgesnyde tonele.

Volg Huisgenoot op Twitter.