Wetenskapsfiksie-western.

Met Daniel Craig, Harrison Ford, Olivia Wilde en Paul Dano.

Regie: Jon Favreau.

2011. 129 min.

16TG.

Ons dink: 3/5

In 1873 word ’n man (Craig) in die Arizona-woestyn wakker. Hy weet nie wie hy is nie en is dronkgeslaan oor die vreemde toestel aan sy arm.

Net toe hy by ’n gehuggie aankom, daal ligte uit die lug neer en baie van die inwoners verdwyn, ook die nors veebaas Woodrow Dollarhyde (Ford) se swakkeling-seun (Dano).

Dollarhyde lei ’n groep om hom te gaan red en die man sluit by hulle aan toe hy besef daar kan ’n verband tussen die ligte en die ding aan sy arm wees.

Die titel laat jou dalk ’n humoristiese gekkespel met volop aksie verwag, maar die regisseur, Jon Favreau, neem ’n verrassend ernstige toon aan en werk hard om ’n geloofwaardige agtergrond te skep. Party mense sal dalk die idee van ’n somber western met elemente van wetenskapsfiksie belaglik vind.

’n Ligter aanslag sou ook plek-plek gepas gewees het, want sekere dele word uitgerek. Tog slaag dit danksy die puik rolverdeling, die opwindende aksie en die interessante storielyn.

Volg Huisgenoot op Twitter.