Ware lewensdrama.

Met Hilary Swank, Sam Rockwell en Melissa Leo.

Regie: Tony Goldwin.

2010. 113 min.

13T.

Ons dink: 3/5

Die fliek is gegrond op die inspirerende ware verhaal van ’n vrou se 18 jaar lange stryd om haar broer uit die tronk te kry.

Kenny Waters (Rockwell), ’n doodgewone jafel met ’n vurige humeur, word in 1983 vir moord in hegtenis geneem en lewenslange tronkstraf opgelê. Sy suster, Betty Anne (Swank), is vasbeslote om sy onskuld te bewys.

Terwyl die ma van twee deeltyds as kelnerin werk, slaag Betty Anne matriek en kry op die ou end ’n graad in die regte. En dan begin die ware drama – sy moet nog die bewyse vind wat Kenny se onskuld sal bewys.

Rockwell en Swank se uitstekende spel help met dié eenvoudige en swak geredigeerde fliek se vermaaklikheidswaarde.

Die byspelers bring ook hul kant, veral Melissa Leo as ’n vasberade polisiebeampte en Juliette Lewisas ’n onbetroubare, platvloerse getuie.

Dis ’n eenvoudige storie, maar steeds ’n boeiende rolprent.

Bonus: kortfliek.