Romantiese komedie.

Met Felicity Jones, Bill Bailey en Tamsin Egerton.

Regie: Phil Traill.

2011. 93 min.

13TNS.

Ons dink: 3/5

Dit is ’n oulike komedie met ’n Britse idee van pret en pittige dialoog. Felicity Jones lewer geloofwaardige, onopgesmukte spel as ’n gewese skaatsplankryer wat liefde, vriendskap en ’n nuwe sportloopbaan as sneeuplankryer kry terwyl sy as huishoudster in ’n stinkryk Londense bankier se ski-chalet werk.

Chalet Girl probeer nie diep of betekenisvol wees nie, maar dis ’n goedvoelfliek met ’n sagte hart en enkele skreeusnaakse tonele, maar ook hartroerende oomblikke.

Daar is ook ’n ongelooflike rapport tussen Jones en die komediant Bill Bailey, wat haar pa vertolk.

Bill Nighy en Brooke Shields is nommerpas as ’n welgestelde paartjie wat hul rykdom in die Oostenrykse sneeu geniet. Romantiese liefde in die persoon van die aantreklike Ed Westwick is die kersie op die koek, maar die verhaal gaan eintlik oor vriendskap, lojaliteit en deursettingsvermoë.

Die musiek deur Christian Henson is opgewek en die einde volkome bevredigend.

Bonus: kommentaar.

Volg Huisgenoot op Twitter.