Animasie-avontuur.

2011. 104 min.

Stemme: Owen Wilson, Larry the Cable Guy en Michael Caine.

Regie: John Lasseter.

A.

Ons dink: 3/5

Animasieflieks werk gewoonlik op twee vlakke: Kinders geniet die helder kleure en oulike karakters en volwassenes waardeer die slim storie en gevatte grappe.

Maar hier is ’n seldsame mistasting vir die animasiereus Pixar. Die animasie is foutloos en die uitbeelding van die wêreldstede asemrowend, maar die storie is te ingewikkeld en die grappe flou.

Die wêreld van Cars maak ook nie sin nie. As daar nie mense is nie, wie het al die voertuie vervaardig?

Kinders sal nie omgee nie. Hulle sal die skouspel geniet terwyl Lightning McQueen (stemwerk deurWilson) en sy beste pel, Mater (Larry the Cable Guy), die wêreld platreis en by ’n ingewikkelde spioenasiespeletjie oor omgewingsgunstige brandstof betrek word.

Mater se naïwiteit begin jou ná ’n rukkie irriteer en te veel uitgerekte praat-tonele kan volwassenes én kinders verveel. Gelukkig is die aksie op die renbaan opwindend.

Bonus: kortflieks.

Volg Huisgenoot op Twitter.