Ons dink: 4/5

2012. 77 min.

13T.

Swart komedie.

Dié komedie deur die beroemde regisseur Roman Polanski is op ’n treffer-verhoogstuk gegrond. Soos in die toneelstuk, is dit net vier akteurs wat in ’n vertrek gesels.

Tog neem dit jou op ’n reis wat die deursnee-lokettreffer vol rekenaarbeelde nie sal kan nadoen nie.

Twee pare, die selfoonbehepte prokureur Alan (Christoph Waltz) en die bankier Nancy (Kate Winslet) en die verkoopsman Michael (John C. Reilly) en Penelope (Jodie Foster), ’n aspirantskrywer, kom bymekaar om ’n stryery tussen hul 11-jarige seuns te bespreek.

Dit het laasgenoemde paar se kind al twee tande gekos.

Al vier beskou hulself as redelik, maar mettertyd val die beleefde maskers af en kom die naels te voorskyn. Teen die einde het die vier mekaar, hulself en hul verhouding emosioneel verniel.