Komedie.

2011.

Met Kristen Wiig, Maya Rudolph, Rose Byrne, Chris O’Dowd en Melissa McCarthy.

Regie: Paul Feig.

125 min.

16TS.

Ons dink: 4/5

Annie (Wiig) is ’n 30-plusser en haar lewe is besig om in duie te stort.

Sy het haar onderneming en haar kêrel verloor, kan nie bekostig om haar huur te betaal of haar motor te laat regmaak nie en haar nuwe minnaar behandel haar sleg.

Al ligpunt is dat sy haar beste vriendin, Lillian (Rudolph), se strooimeisie gaan wees. Maar dan steel Lillian se ander vriendin, die mooier, ryker en stylvoller Helen (Byrne), haar kollig met geskenke, partytjies en rokke waarmee Annie nie kan meeding nie.

Die naels word uitgehaal . . .Dis net die storie, maar die fliek wemel van wonderlike karakters soos O’Dowd as ’n eksentrieke polisieman en McCarthy as ’n vreesaanjaend mannetjiesagtige strooimeisie en klassieke skaterlagtonele.

Dis een van die snaaksste, skerpste flieks van die jaar en behoort van die talentvolle Kristen Wiig ’n groot ster te maak.

Bonus: blapse, kortflieks, kommentaar, uitgesnyde tonele.

Volg Huisgenoot op Twitter.