Ware lewensdrama.

Met James Franco, Kate Mara en Amber Tamblyn.

Regie: Danny Boyle.

2010.

90 min. 13O.

Ons dink: 5/5

Die verhaal van Aron Ralston, ’n man wat lief is vir die buitelewe en in 2003 in ’n canyon in ’n afgeleë deel van Utah vasgekeer was, is goed bekend.

Hy was vyf dae lank onder ’n groot rots vasgepen en het homself in hierdie tyd probeer loskry, video-opnames vir sy gesin gemaak en toegekyk hoe sy karige voorraad kos en water – hy sou net twee dae weg wees – vinnig krimp.

Eindelik het hy op ’n bloedige, maar triomfantelike manier losgekom.

Al hou die ontknoping van Ralston se beproewing geen verrassings in nie, is dit ’n pluimpie vir die regisseur Danny Boyle (Slumdog Millionaire) en die akteur James Franco se rolprentvernuf dat die fliek jou end-uit boei.

Franco se aangrypende spel as ’n gewone ou in ’n ondenkbare situasie laat die kykers saam met hom in daardie smal canyon beland.

Dit verhef die fliek ver bo die meeste ander wat begin met die woorde “gegrond op ’n ware verhaal”.