Dis die eerste ding wat mense vra wanneer jy hulle meedeel jy is verloof: “Kan ek die ring sien?”

En terwyl dit dalk goed voel om met ’n bielie van ’n diamant te spog, kan ’n groot steen beteken jy het ’n groter kans om in die skeihof te beland.

’n Ondersoek aan die Emory-universiteit in Amerika se departement van ekonomie het getoon ’n peperduur ring kan die kans verminder dat julle bymekaar sal bly.

Altesaam 3 000 Amerikaners is nagevors wat voorheen langer as 13 jaar getroud was. Daar is bevind die vrygewige mans wat tussen R22 000 en R44 000 op ’n verloofring geblaas het, se kans was 1,3 groter om te skei as dié wat tussen R5 500 and R22 000 bestee het. Maar moet nog nie in die winskoopafdeling gaan grawe nie – diegene wat minder as R5 500 aan ’n trouring bestee het, se kans op ’n egskeiding was ook weer groter.

“As trou-uitgawes inderdaad ’n verband met skuld-stres het, is dit moontlik dat trou-uitgawes die waarskynlikheid vir huweliksverbrokkeling verhoog gegewe dat vorige literatuur dui op ’n verband tussen ekonomiese stres en huweliksverbrokkeling,” meen die navorsers.

En die ring is natuurlik nie die enigste uitgawe by afhaak nie – daar moet betaal word vir alles van die plegtigheid en rok tot die blomme en drank. En pare wat meer as R220 000 op die groot dag blaas, het ook ’n hoër egskeidingskoers as pare wat R55 000 tot R110 000 bestee het. En die spaarsamiges wat minder as R11 000 opgedok het, het die laagste egskeidingskoers gehad.

Maar alles is darem nie sleg nie –om ’n baba te hê, baie mense na die troue te nooi en geld te blaas op ’n wittebrood word almal aan ’n langer huwelik verbind.

Al die geld wat jy op die ring en die plegtigheid spaar, kan dus vir ’n vyfsterwegbreek help betaal . . .

© Cover Media