Huisgenoot sorg vanjaar weer vir drie voortreflike buitelugkonserte by vanjaar se Absa KKNK.

Die tradisie van Huisgenoot se KKNK-afskopkonsert, die Treffer na Treffer-konsert, is nou al so gevestig dat mense eintlik sit en wag dat die kaartjiekantore moet oopmaak. Die vertoning het vanjaar kunstenaars soos Kurt Darren, Ray Dylan, Manie Jackson, Nicholas Louw, Andriette Norman, Adam Tas, Wicus van der Merwe, Desmond Wells, Anders, NRG, Silwer en Goud en ’n orkes.

Die gewilde popskonsert is vanjaar ook weer terug. Huisgenoot bied die Klein Karoo 20 jaar Pops aan in samewerking met die fees. Dié konsert, een van die oudste KKNK-tradisies, word vanjaar nie net afgestof nie, maar nog beter aangebied. Die uitsonderlike skemervertoning bevat liedjies en kunstenaars wat die nostalgie wakker maak, dink maar Laurika Rauch se Hot Gates saam met Karen Zoid, ’n spesiale vertoning deur Nataniël, Sophiatown legendes Dorothy Masuka en Thandi Klaasen met Pata Pata, David Kramer en Kurt Darren se grootste treffers, sowel as ietsie klassieks deur Nianell en Zanne Stapelberg.

Die derde konsert, Trots Afrikaans, is presies wat die naam sê: Net die beste Afrikaanse musiek word opgevoer, en dit deur ervare kunstenaar soos Bobby van Jaarsveld, Corlea, Jay, Robbie Wessels, Riana Nel, Arno Jordaan, Jannie Moolman, Pieter Koen en Dewald Wasserfall.

Maak seker jy mis nie ’n enkele oomblik se musiekgenot nie en bespreek vandag nog jou kaartjie; vanjaar is daar spesiale pryse vir almal wat ’n gesinspakket koop.

Vertonings

  • 29 Maart: Treffer na Treffer-konsert (Afskopkonsert)
  • 30 Maart: Klein Karoo 20 Jaar Pops
  • 31 Maart: Trots Afrikaans

Alle konserte begin om 19:00 en vind plaas by die Huisgenoot-verhoog op die Oudtshoorn-sportterrein in Voortrekkerweg.

Kaartjies

  • Bespreekte sitplekke: Vanaf R120
  • Onbespreekte sitplekke: (volwassenes) R90; (Kinders) R60
  • Gesinspakket 1* (twee volwassenes en een kind): R200
  • Gesinspakket 2* (twee volwassenes en twee kinders): R250
  • Kaartjies by www.computicket.co.za

kknkfbhg