Deur Johrné van Huyssteen

EK SIT so by myself en dink, en besef: Ons het dringend positiewe nuus nodig in ons daaglikse bestaan as Suid-Afrikaners.

Om die braaivleisvure en konkas, in paleise en hutte word daar gesanik en gemor, en bespiegel soos laas toe ponde rande geword het.

Ek kom uit ’n positiewe familie. Ouma het altyd gesê: “As jy nie positief is nie, sal jy negatief raak.” Wel, sy was wys en dierbaar, maar super-kommin en glad nie sag op die oog nie. Haar teenwoordigheid het jou positief gemaak. Jy was dankbaar dat jou moesies kleiner was, en dit het jou positief gemaak.

As my ouma-anekdote nie genoeg aansporing is nie, kan jy jou altyd wend tot die duisende boeke wat al geskryf is oor positief wees – soos dié van die TV-ghoeroe Dr. Phil. Ek wonder of hy elke aand ’n stukkie van sy eie boeke lees? Daar is ook boeke met tienstapplanne tot ’n positiewer ingesteldheid as Kersvader. Dié stappe, meen ek, werk net as jy baie dom is. Dit is gewoonlik goedjies soos:

1. Staan op met ’n glimlag, al het jy nie tande nie.

2. Wees vriendelik met almal, al is jou motor pas gesteel.

3. Dink net positiewe gedagtes, al weet jy jy vloek soos ’n sleg komediant.

4-10. Nog ses wenke wat nie werk nie.

As dit kom by positief wees, was die enigste geslaagde boek nog 50 Shades of Grey. Ná maande smaail die tannies nog steeds – nie omdat hulle so lekker vry nie, maar omdat hulle die ooms so seermaak.

As dinge soms ’n bietjie bleker lyk as sesjarige bloedjies net voor hul eerste skooldag, is dit tyd om terug te sit en die positiewe te soek. Ek het ’n lys opgestel met die titel: Dinge Kon Erger Gewees Het. Of: Dink So Daaraan.

Ek hoop van ganse harte dit laat jou beter voel. Noem my maar Dr. Philné van Huyssteen.

1. Die hoë petrolprys is eintlik positief. Mense kan begin werk toe loop en maer word. Of jy kan jou nors ou buurman ’n geleentheid werk toe gee – dan leer jy hom eindelik ná sewe jaar ken.

2. Die hoë kragprys is baie goed vir sekere huwelike, want egpare praat met mekaar pleks van 7de Laan kyk. Mans en vroue leer mekaar weer ken soos voor die kanseldag – al is dit in die donker.

3. Met vleis wat net duurder word, het almal vir die eerste keer ware simpatie met vegetariërs. Ek bedoel, ons probeer alles: gemarineerde tamatie, wortel- sosaties en gedroogde aartappel met koljander. Laasgenoemde lyk dalk sleg, maar as jy vasbyt, smaak dit (amper) na biltong.

4. Mense hou meer in Suid-Afrika vakansie as oorsee. Vir die eerste keer besef hulle daar is meer as een Heidelberg, en wat die verskil tussen Ladysmith en Ladismith is. Jy weet ook nou daar is ’n Ventersdorp, -burg en -stad en dat dit nie dieselfde plek is nie. En jy besef vir die eerste keer dat die Verwoerddam nou die Gariep is (al verstaan jy dalk nog nie waarom party mense !Xariep skryf nie).

5. Jy koop nie meer nuwe klere nie, want skielik pas jy weer in jou ou hemp en broek – seker sedert jy so min vleis eet. Jy lyk dalk sleg daarin, maar jy voel góéd.

6. Sedert jou vrou minder grimering koop, sien jy vir die heel eerste keer hoe sy regtig lyk.

7. Jou kinders speel kennetjie en wegkruipertjie pleks van Mortal Combat op die PlayStation (wat jy nie kon bekostig nie).

8. Jy kan weer ’n koei in die agterplaas aanhou en self vir Bella melk.

9. Nkandla is glad nie so erg nie. Ook nie die snoepie en kliniek nie. ’n Mens moet besef die president het nie net ’n familie nie, hy werk aan ’n nuwe nasie. Buitendien, ons prez kon op groter skaal drooggemaak het: Hy kon ’n Afrikaanse CD uitgebring het.

10. Laastens: Al eet jy mieliepap, onthou: Daar is kinders in Indië sonder iPads!

Johrné van Huyssteen is ’n musikant en omroeper by die radiostasie OFM.