AS SY ’n karakter in ’n fliek was, sou daar ongetwyfeld vele tonele gewees het waar sy aan die bopunt van ’n gepakte tafel sit wat kreun onder die lekker kos.

Goeie kos en familie is immers wat Carmen Niehaus se hart warm laat klop. Huisgenoot se kosredakteur van die afgelope 22 jaar se liefde vir kos maak het op hul plaas op Citrusdal in die Wes-Kaap, waar sy grootgeword het, ontstaan.

“Ons was koshuiskinders en as ons naweke huis toe gegaan het, het my ma omtrent uitgehang. En ons het altyd in die kombuis gehelp,” vertel sy in haar kantoor in Kaapstad. Haar ma het altyd gebak vir Sondagmiddae se familiekuiers.

“Dit was nie ongewoon om 20 mense aan tafel te hê vir ’n Sondagmaal nie. As my ma Sondae kerk toe gegaan het, het ek en my sussie gekook. Ek het nog altyd gehou van in die kombuis wees. Die eerste ding wat my ma my as kind geleer het, was hoe om te knie. Sy het altyd in ’n groot sinkskottel op ’n stoel geknie. Ek en my suster het ywerig hand bygesit.

“Vrydae het sy brood gebak en as ons van die koshuis kom, was dit óf nog in die oond óf het dit pas uitgekom. Ek sal my siel verkoop vir tuisgebakte brood,” vertel sy.

Haar eerste bakpoging was skons, en dis vandag steeds vir haar hemels om ’n lekker skon te eet. ’n Resep vir skons is juis een van die vele in Bakboek, die 18de resepteboek vir Huisgenoot waarby Carmen betrokke is. Dit het pas die rakke getref.

“Ons lesers is baie lief vir bak; dit kon nie net ’n hoofstuk in ’n gewone Wenresepteboek wees nie,” vertel sy.

Lees meer oor Carmen in die Huisgenoot van 26 Augustus 2010. KLIEK HIER om haar jongste blog te lees.