Deur Mari-Louis Guy Mense fluister met diep respek oor melktert, die régte een met so ’n pragtige spogkraag. Met groot erns word vertel hoe die nartjie geskil, die vanieljepeule uitgeskraap en ’n effense amandelgeursel en ’n amperse druppeltjie suurlemoen bygevoeg word. Hoe vroeg-vroeg opgestaan en die deeg presies 100 keer hard op ’n koel marmerblad gegooi word . . .

Ek het al genoem dat sou ek ’n keuse hê, melktert my laaste ete op aarde sou wees.

Ek het al genoem dat sou ek ’n keuse hê, melktert my laaste ete op aarde sou wees. Een dik sny, koud uit die yskas, gevolg deur een nog dikker sny, lekker in die oond verhit.

Vandeesweek was ek gelukkig genoeg om die deeg se diepste geheime te leer by die tertdeegkoningin Theresa de Vries. Saam aan die uitrol op die dag was van my gunsteling-kosmense soos Rendil Pietersen ( Kokkedoor 1), Errieda du Toit ( Huiskok), Nina Timm ( MyEasyCooking) en Anel Potgieter.

Theresa het ’n geen-nonsens-manier van doen en nie een onnodige stap word ingevoeg nie. Sy’s vinnig, doeltreffend en goed geoefen – ’n mens kan sien dat sy dit al honderde kere gedoen het. Haar manier van bak laat my baie aan Gerda op Koekedoor s’n dink. En sy was glo jare lank bakker daar by Ermelo se tuisbedryf.

En dit is wat Koekedoor vir my so spesiaal maak. Kykers leer werklik elke keer iets op die program.

Mareli se skilferkors was veerlig en amper soveel blaaie soos die ensiklopedie gehad. Gerrit se vulsel was weer vol onthou van sy liewe ma, en wat ’n heerlike tekstuur. Valerie het haar eerste spogkraag gemaak en heel verlief op tertdeeg geraak.

Martjie het die tradisionele resep baie subtiel gewysig met vars vanieljesaadjies en suurlemoenskil.

Sy was vandeesweek die waardige wenner met ’n heerlike melktert en die pragtigste vlaskywe en Jodetert, en ons moes met groot hartseer aan Valerie tot siens sê.

Hier is gisteraand se episode in hul woorde.

[post-slider]

----

Ek, boet Callie en ons vriendin Melody Deas het sommer vir die pret ’n baie eenvoudige melktert gedemonstreer in ’n video: Die Kwaai Bakker.

Mari-Louis Guy is medebeoordelaar op Koekedoor, ’n vryskut kosstilis en skrywer van Koeke Ter Viering van Liefde en Lewe, Cakebread Pudding&Pie, Love&Food: The Market Book, Markdag en Onthaal op Groot Skaal

Volg haar gerus op die volgende media