Main afr Die boek Ou Bloed Die skrywer Peet Venter Die uitgewer Lapa-uitgewers Die prys R195 by kalahari, R116 as ’n e-boek

EK LEES al speurverhale sedert ek ’n pikkie in die 1960’s was (onthou jy nog vir Karel Kielblock?) en het wraggies nie gedink daar bestaan ’n Afrikaanse speurskrywer van wie ek nie weet nie.

Toe skryf Ilse Salzwedel (aanbieder van Skrywers en Boeke op RSG) op haar Facebook-blad dat sy ene Peet Venter se nuutste krimmie lees en dit glad nie kan neersit nie.

Hu? Peet Venter? Wie’s hy?

En so beland Ou Bloed toe by die stapeltjie storieboeke wat kort daarna saam op vakansie Namibië toe ingepak word.

Wat ’n vonds! Duidelik kom ek nie genoeg by my LitNet- en ander boeknuusbriewe uit nie, want tot my skande moet ek erken ek het heeltemal misgeloop dat die man al talle kortverhale en 10 boeke die lig laat sien het, die meeste van hulle misdaadrillers. Dit wil voorkom of hy tot taamlik onlangs maar onder die radar gevlieg het, maar sedert Ou Bloed se voorganger, Dieper as die Bloed, verlede jaar verskyn het, handhaaf hy ’n hoër profiel. Vandeesweek het hy ook deelgeneem aan die Pretoria-been van die misdaadskrywerfees wat landwyd aangebied word deur die SA Sentrum vir Nederland en Vlaandere.

Die boek

Voorblad

Terug na Ou Bloed. Ek was mal daaroor. Party hedendaagse Afrikaanse speurromans se stories is maar dun, en die karakters nog dunner – nie dié een nie.

Die boek skop sterk af en jou bloed wil sommer met die eerste paar bladsye al stol. Dan word twee moorde gepleeg: een op ’n landdros en een op ’n pastoor. Dit blyk gou die moordenaars was albei pedofiele, en speurder Thys Krige se ondersoek lei hom na die donker wêreld van dwelmskurke en kinderhandelaars. Hy het ’n sinistere helper – die moordenaar self – en al sien ’n mens ’n deel van die gebeure deur die moordenaar se oë, werk jy eers naby die einde uit wie hy is en wat sy rol in die intrige is – en presies hoekom die boek se naam Ou Bloed is.

Die boek roer ook heelparty pertinente Suid-Afrikaanse vraagstukke aan. Wat doen ’n mens as jou land se regstelsel nie misdadigers vastrek nie? Is Thys reg as hy sê moordenaars het dieselfde regte as hul slagoffers? Mag jy ooit die reg in eie hande neem?

Die skrywer

Peet Venter

As ’n mens ’n nuwe skrywer ontdek, is Google jou vriend. So kom jy te wete dat Peet Venter 73 jaar oud is, ’n raadgewende ingenieur is, op ’n plaas in die Dinokeng-reservaat naby Pretoria woon en in 2010 afgetree het, maar steeds deeltyds as raadgewende ingenieur werk. Hy is ook ’n man van vele ander talente: Behalwe skryf hou hy hom besig met skilder, beeldhou en komponeer, hoewel hy die laasgenoemde twee nou links laat lê om meer tyd aan skryf te wy.

Thys Krige het in ’n paar van sy vorige romans ook verskyn en op die oomblik werk Venter aan nog ’n Krige-krimmie. In ’n LitNet-onderhoud met Carla van der Spuy verklap hy dat hy sy hand nog aan wetenskapsfiksie wil waag en ons kan verwag dat die volgende Thys Krige-roman “ ’n bietjie nader gaan beweeg aan die ongewone/onverklaarbare” . . .

Ons kan nie wag nie.

- Joan van Zyl

As jy meer oor Peet Venter te wete wil kom, lees hier:

Op LitNet:

http://www.litnet.co.za/Article/peet-venter-1940

http://www.litnet.co.za/Article/peet-venter-oor-ou-bloed-boosheid-en-oorbodige-woorde

Laai die MP3 van Skrywers & boeke (2 Oktober) hier af:

http://www.rsg.co.za/Program/270/Skrywers-en-Boeke -