Dit was net een ‘relletjie’ te veel. Ná byna drie dekades as aanbieder van die vermaakprogram, Top Gear, met die hoogste televisiekykertal ter wêreld, het die BBC Jeremy Clarkson in die pad gesteek.

Die BBC het die aanbieder, wat die kontant laat inrol het, geskors nadat hy ’n regisseur se lip stukkendgeslaan het omdat hy nie gesorg het dat Clarkson ’n warm aandete kry nadat hulle heeldag filmwerk gedoen het nie.
'Hierdie besluit is nie ligtelik geneem nie.'

"Hierdie besluit is nie ligtelik geneem nie,” het Lord Tony Hall, die direkteur van die BBC, gesê. “Ek het dit slegs ná baie versigtige oorweging van die feite gedoen, en nadat ek persoonlik met Jeremy, sowel as Oisin Tymon, vergader het.“

Jeremy (54) kon oënskynlik nie sy woede beheer nie en het die assistent-regisseur, Oison Tymon (36), wat jare lank saam met hom op die program gewerk het, geslaan nadat hulle heeldag filmwerk gedoen het.

Hy het biefstuk geëis en was woedend toe hy hoor dat die kok al huis toe is en dat daar slegs sop of borde koue kos, soos byvoorbeeld 'n kaas- of vleisbord, beskikbaar was.

Ná ’n deeglike ondersoek na die saak, het die uitsaaier besluit om nie Jeremy se kontrak te hernu nie.

"Die BBC moet nou sorg dat Top Gear in 2016 hervat word. Dit sal 'n groot uitdaging wees, en dit is nodeloos om voor te gee dat dit nie die geval is nie,“ het Lord Hall bygevoeg.

Die uitsaaier moet nog aankondig wie, indien enigiemand, Jeremy sal vervang.

Bronne: YOU, 26 Maart; telegraph.co.uk, mirror.co.uk, bbc.com