DIT is nie liefde op die eerste oogopslag vir Simone nie. Daarvoor is hulle albei aanvanklik te senuagtig.

Maar namate die aand vorder, ontdek Simone sy grys oë in die kerslig. En sy mooi, rustige stem wat vertel van die veld – en die son omhels haar, sodat sy vergeet van sy styllose klere.

Anders as die meeste mans met wie sy uitgegaan het, kan Gert luister. Toe sy oor haarself en haar drome begin praat, kan sy sien hy stel regtig belang, asof hy dors is om met haar te deel.

Teen laataand skuif sy op die ingewing van die oomblik haar hand onder Gert se groot, growwe hand in, asof dit daar hoort.

DIE advertensie wat in baie tydskrifte verskyn het, is nou nog teen die koöperasie se muur opgeplak. ’n Mens kan nie vir Gert daarop miskyk nie. Hy staan lewensgroot, met ’n breë, kaal bors en ’n gesig gedeeltelik vol skeerseep gesmeer.

Maar ’n mens kan daardie legendariese ken nóg sien. In sy hand hou hy ’n spesiale skeermes vas.

En onder die foto staan die legende: Ferrini. Die skeermes vir ’n man wat kan. Die manne van die distrik spot nou nog vir Gert daaroor.

Maar hy lag net.Want hy weet dit was ’n goedkoop prys om te betaal vir sy Simone.

Hulle is net maande ná sy beroemde Kaapse reis getroud – in die klipkerk op die dorp. Die hele kontrei se mense was daar.

En natuurlik ’n klompie van The Perfect Face. Butch wou ’n erewag van sekuriteitsmanne buite die kerk laat stelling inneem, maar Simone het botweg geweier. Pierre het aangebied om al die blomrangskikkings te doen, wat pragtig gelyk het.

Samantha het gesê sy sal net troue toe kom as Gert vir Simone sal toelaat om nog modelwerk te doen, net wanneer sy wil.

Samantha was op die troue.

En die bruilof gangers praat ook nou nog van Sally, wat amper heel voor gesit het. En hier teen “gee mekaar die regterhand” het sy alle selfbeheersing en professionele waardigheid verloor en heerlik begin huil.

Simone het onlangs in twee televisieadvertensies verskyn, maar nie meer as ’n jong, hubare meisie nie. Sy het die rol van ’n ma vertolk.

Want op die werf hardloop daar twee lewenslustige spruite rond en vertrap oupa Jantjie se groentetuin.

Die oudste het ’n pragtige bos hare, nes haar ma. En dieselfde klokhelder lag.

Die jongste se ligte hare en potblou oë is nog nie deur die Karoo son verskroei nie. Maar as ’n mens na sy kakebeen kyk, is daar geen twyfel nie: Dis Pa se seun!