SIMONE se regte naam is ook Simone. Haar pa wou die Franse herkoms laat voortleef. Simone de Villiers.

Suiwelraad meisie. Deeltydse model. Heeltydse onderwyseres.

“Jy sal jou persoonlike telefoonoproepe in werktyd moet beperk, juffrou De Villiers. Anders sal ek die hoof moet sê,” waarsku die suur oujongnooi in die skool se administratiewe kantoor toe Simoné ingehardloop kom om die oproep te neem.

“Ons het ’n klein probleempie,” sê Samantha oor die foon.

“Kan jy ná skool ’n draai kom maak?”

“Natuurlik,” sê Simone.

“Sien julle tweeuur.”

Tweeuur kom, en as Gert haar kon hoor lag, sou hy die gemoedsrus gehad het dat hy haar regop gesom het. Maar hy is nie by toe Simone haar bos swart hare agter oorgooi en Samantha se kantoor met haar klokhelder lag vul nie–dít nadat Samantha haar van die hele petalje vertel het.

“Waar is hy nou?” vra Simone.

“By sy hotel. Maar ek het belowe ek sal hom voor vier bel. Asseblief, Simone, jy móét help!”

“Hoe?”

Samantha het die plan deeglik uitgewerk.

Die kunsdirekteur wou Gert as model vir sy foto hê, maar Gerthet volstrek geweier. Hywil vir Simone hê.

As Simone nou byvoorbeeld saam met Gert kon gaan eet en hom ompraat om vir net ’n paar foto’tjies te poseer, kan almal se probleme mos opgelos word, soebat Samantha.

“Hy klink na ’n interessante karakter,” sê Simone nadenkend.

“En glad nie te onaardig nie,” las Samantha by. “Hy het ’n kakebeen.”

“ ’n Kakebeen?”

“Jy weet mos? Daardie soort wat sy ken uitstoot en veg tot hy presies kry wat hy wil hê.”

“Mmmm– ’n sterk, manlike man.”

“Ja,” beaam Samantha geesdriftig.

“’n Man so na jou hart.”

“Nou goed. ’n Ete saam met hom kan seker nie kwaad doen nie.”

Samantha glimlag dankbaar.

“O ja, amper vergeet ek. Hy het vir jou iets saamgebring.”

Samantha haal die mandjie onder die lessenaar uit.

Simone se lag weerklink tot by Sally se ontvangslokaal.