SAMANTHA SERFONTEIN het nie bo uitgekom deur moeilikheid te “vat” nie. As jy jou eie modelagentskap wil hê, moet jy dit ook kan uitdeel.

Toe Sally bel, is Samantha nie besig om uit te deel nie; sy is besig om met ’n probleem te worstel. Die kunsdirekteur oorkant haar lessenaar soek na ’n manlike model.

En The Perfect Face kon tot nog toe nie die regte een verskaf nie.

Samantha wil nie hê die kuns direkteur moet sy manlike model op ’n ander plek gaan soek nie. Want net nou loop die storie dat The Perfect Face nie die perfekte gesig kon verskaf nie.

“Hier is ’’n man by ontvangs wat nie wil loop nie,” sê Sally met ’n stem wat die eerste tekens van stres bevat.

“En nou sit sekuriteit ook hier sonder om iets daaraan te doen!”

“Ek kom,” sê Samantha streng, want sy verwag professionele optrede van haar mense. Maar sy glimlag vir die kunsdirekteur toe sy die telefoon neersit.

“Verskoon my net ’n oomblikkie. Ek is nou terug,” sê sy terwyl sy seepglad uit die stoel glip en by die deur uitgly.

’n Bulderende gelag begroet haar toe sy by die ontvangslokaal instap. Pierre en Butch skater–Butch so erg dat hy amper van sy stoel afval.

Die gelag en Samantha se verskyning is net een te veel vir Sally. Haar professionele waardigheid stort in duie. ’n Swart maskarastreep biggel teen haar wang af.

Ten aanskoue hier van waai die stem waarmee Samantha al honderde modelle, fotograwe en kuns direkteurs tot stilstand gebring het, soos ’n koue Karoo-winterwindjie oor die drie manne: “En wat is hier aan die gang?”

Butch en Pierre herken haar, spring gelyk op en begin verduidelik.

“Ek is nog besig om na die ongewenste indringer te soek,” sê Butch.

“Ek het my portefeulje kom wys,” sê Pierre.

Gert stoot sy ken uit, staan ook op, stap nader en steek sy hand uit.

“Gert Scholtz. Ek wag vir Simone,” sê hy sonder skroom.

Samantha sou die kakebeen raak gesien het toe sy sy hand onwillig neem. Sy is immers ’n vrou wat haar brood met gesigte verdien. Maar sy is te gretig om te weet wie die man is wat nie wil loop nie, soos Sally gerapporteer het.

“Waar is hy?” vra sy.

Sally ignoreer nou die luiende skakelbord heeltemal. Sy lig haar vinger en wys beskuldigend na Gert.

“Dáár is hy!” sê sy.

“Dáár is hy!” sê nog ’n stem.

Almal kyk om.

Die kunsdirekteur staan in die deur en wys ook met sy vinger na Gert.

“Ek?” vra Gert.

“Ja,” sê Sally en die kunsdirekteur gelyk.

“Hy is perfek!” sê die kunsdirekteur.

“Hy is ’n indringer,” sê Sally.

“Hy?” vra Butch en wys uit die veld geslaan met sy knuppel na Gert.

“Ek wag vir Simone,” sê Gert en sy ken skuif weer ’n paar millimeter.

Maar dié keer sien Samantha die kakebeen.

En sy weet. Want sy ken gesigte. En mense.

“Wag, wag, wag,” sê sy.

“Kom ons kry eers ’n koppie tee vir almal.”