BUTCHBESTER is ’n grootman. Met die blou sekuriteitsuniform, groot swart gordel met radio en knuppel wat daaraan hang, en knewels van stewels aan sy voete, lyk hy nóg groter.

Toe Sally hom bel en sê daar is ’n ongewenste indringer in haar kantoor, reageer hy dadelik. Nie dat Sally na Gert as ’n “ongewenste indringer” verwys het nie.

Dit is maar net hoe hulle vir Butch leer praat het by die sekuriteitskool. Butch trek sy maag in en rol sy skouers ’n slag toe hy by die hysbak uitkom, om seker te maak dat hy die beste moontlike indruk op die indringer maak.

In Perfect Face se ontvangslokaal is daar egter geen teken van ’n indringer nie–gewens of ongewens.

Sally is weer besig met die skakelbord, en teen die muur sit ’n groot kêrel en ’n klein kêreltjie en gesels.

Alles baie rustig en doodnormaal.

Butch wil omdraai om in die gang ook te gaan loer, maar toe hoor hy die manne teen die muur praat Afrikaans – en die groot kêrel is besig om te vertel hoe hy ’n rooijakkals vasgetrek het.

Butch staan nader, laat sak sy maag en begin luister, want dié man kán ’n storie vertel! Teen die einde van Gert se storie lag Pierre en Butch ewe hard.

Pierre vra wanneer laas Gert reën gehad het.

Sally kan haar oë nie glo nie. Toe sy opkyk, is die sekuriteitswag wat haar so irriteer, wraggies besig om ’n stoel uit te trek en soos ’’n wafferse cowboy agterstevoor daarop te gaan sit.

In haar professionele ontvangslokaal! Sy besluit net daar en dan dat sy hier met ’n krisis te doene het. Dit is tyd vir noodmaatreëls.

Sy wil vir Samantha sê. Want Samantha Serfontein, die grootbaas van The Perfect Face, vat nie moeilikheid van enigiemand nie.