SALLY is met die telefoon besig toe die man met die mandjie in die hand voor haar toon bankie kom staan.

Dit gee haar tyd om hom goed deur te kyk. Sy vaal hare en vaal oë raak weg indie bruingebrande gesig.

Die blouhemp span mooi oor sy borskas, maar die hemp se snit is . . . wel, ietwat uit die mode.

Die grys broek ook. Netjies gestryk, maar tipies van massa produksie. Die swart skoene is ook nie die soort wat jy in ontwerperswinkels kry nie.

Wat in die mandjie is, kan sy nie sien nie, want ’n gaasdoek bedek die inhoud.

Gert steek sy hand uit. “Gert Scholtz. Is Simone dalk hier?”

“Simone? Is dit vir haar?” Sally skud sy hand baie onwillig, slaan teësinnig oor na Afrikaans,en wys na die mandjie.

Gert knik en glimlag.

“Sy is nie hier nie. Jy moes eers gebel het. Perfect Face, good morning,” beantwoord sy

die volgende oproep.

Maar Gert bly staan. Sally kyk hom weer op en af. Sy sien nie die kakebeen raak nie.

“You’re going through. Meneer, ek het gesê Simone is nie hier nie.”

“Dan wag ek maar,” sê Gert met ’n geduldige glimlag. Hy draai omen stap na waar ’n paar ontwerperstoele en ’n tafeltjie teen die muur staan terwyl hy sy ken uitstoot.

Sally vererg haar bloedig, maar voor sy professioneel kwaad word, lui die telefoon weer.

Gert skuif die mandjie onder die stoel in wat die meeste na ’n stoel lyk, gaan sit en soek deur die tydskrifte op die tafeltjie.

Dan sien hy hoe ’n man by die deur ingedraf kom met ’n groot, plat sak in sy hand. Gert vergaap hom, want dié kêreltjie is amper so mooi soos ’n vroumens.

Die man drafstap tot voor Sally se toonbank. Sy skryf ’n boodskap neer.

“Haai. Ek is Pierre. Ek moet my portefeulje vir Samantha kom wys,” sê hy.

Sally is meteens dankbaar dat daar nog normale mense in die wêreld is. Sy glimlag vir Pierre.

“Samantha is nog in ’n vergadering met die kunsdirekteur van ’n groot reklameagentskap. Sit gerus. Sy sal nie lank wees nie.”

Sally beduie na die tafels en stoele en sien dan weer vir Gert raak. Haar glimlag weifel ’n oomblik.

“Meneer, verskoon my. . .”Sally haat dit om voor Pierre Afrikaans te praat, maar dit is darem ’n noodgeval.

“Jy kan nie hier sit en wag vir Simone nie. Jy sal moet gaan.”

Gert glimlag weer hoflik.

“Dit is die enigste plek waar ek vir haar kán wag,” sê hy en die ken skuif ’n sentimeter of wat vorentoe – dié keer onder Sally se neus in, by wyse van spreke.

Sally is egter te ontsteld om dit raak te sien.

“Dan sal ek maar sekuriteit moet bel,” sê sy en draai om na haar skakelbord.

Gert steek sy hand uit toe Pierre aan die ander kant van die tafel gaan sit. “Gert Scholtz,” sê hy.

Pierre skud blad.

“Pierre van Aswegen.”

“Jy is nie dalk van Colesberg se Van Aswegens nie?” vra Gert.

Pierre se potblou oë verhelder en hy glimlag met ’n perfekte stel tande.

“Ja, my pa hulle boer daar. Pierrewiet van Aswegen van Schoongezicht.”

“Ek het verlede jaar ’n merino-ooi by hom gekoop,” sê Gert.