DIT sal nie te moeilik wees om sy eerste vakansie te neem nie. Lamtyd is nog maande weg en die slagvee is al afgelewer.

Gert se groot probleem is om te besluit wat in die mandjie moet gaan wat hy vir Simoné wil saamneem.

Abraham het dadelik ’n skaap of twee voorgestel – lewendig natuurlik. Sarah se lagbui laat hom gou daar van afsien.

Sy is meer prakties. Stadsvroue is dol op vars plaas groente. Sy sal persoonlik toesien dat oupa Jantjie van sy beste koolkoppe, tamaties, wortels en boontjies uit die tuin agter die groot stoor gaan pluk.

Gert is nie heeltemal daar van oortuig dat sy reg het nie, maar haar geesdrif is te groot. Hy gaan tap die bakkie se olie af en sit nuwe vonkproppe en punte in vir die dagreis Kaap toe.

Dié aand pak hy en Sarah sy tas. Sy kerkpak en skoene, das en hemp kom netjies in die droogskoonmakers se plastieksak. Bo-op is sy nuutste werksklere en skoene – al wat hy het.

“Jy moet maar ’n swembroek in die Kaap koop. Dis al wat nog kort,” sê Sarah terwyl sy ’n plastieksakkie by sy was- en skeergoed op die wasbak neersit.

“En moenie môreoggend dié vergeet nie.”

Gert bêre sy bankboekie, die tydskrif en die hotel se adres net voor slaaptyd in die bakkie se paneelkissie. Terwyl hy terug stap op stal toe, kyk hy na die sterre en wonder of dit die laaste keer is dat hy sy plaas se uitspansel alleen aanskou.

Toe stoot hy sy ken uit en staan bed se kant toe.