SALLY kom uit die Swartland, maar mense wat by haar raad vra in The Perfect Face se voorportaal, sal dit nooit sê nie. Haar Engels is sonder aksent, haar klere en haarstyl modern en sy duld geen ligsinnighede nie.

Om die ontvangsdame en skakelbordoperatrise van ’n modelagentskap te wees, verg professionele optrede. En Sally is professioneel.

“Perfect Face, good morning,” antwoord sy die telefoon net ná halfnege.

“Môre,” sê Gert uit Richmond se kontrei.

“Kan ek asseblief met Simone praat?”

“Sy is nie op die oomblik hier nie, meneer. Kan ek ’n boodskap neem?” hou Sally op Engels vol, al pla haar gewete haar effens.

“Weet jy dalk waar ek haar indie hande kan kry?”

Sally sug en slaan oor na Afrikaans. “As u haar as model wil gebruik, kan u met Samantha praat. Maar as dit persoonlik is, moet u haar by die huis bel.”

“Het jy haar nommer?” vra Gert.

“Ek is jammer, ons verskaf nie modelle se persoonlike besonderhede nie.”

Gert stoot sy ken uit.

“Nou hoe gaan ek haar dan by die huis kan bel, juffrou?”

“Dit is u probleem, meneer. Totsiens.”

Sally skud haar kop ergerlik en laat haar rooi naels oor die elegante skakelbord se knoppies dans om die volgende oproep te beantwoord. Sy vergeet onmiddellik Gert se navraag.