DEUR DEON MEYER

HULLE het Gert se kakebeen mis gekyk – en dit is dalk waar die moeilikheid begin het. Soms gaan dit so as jy die hele dag net met mens werk wat perfekte proporsies het–hoë wangbene, fyn neusies en groot blou oë.

Boonop het die vrou by die modelagentskap haar blind gestaar teen Gert se kleredrag, wat seker nie as uiters modern beskryf kan word nie.

As ’n mens in die hartjie van die Karoo met skaap wil boer, moet jy ’n streep vasberadenheid in jou hê. Gert het geen tekort gehad nie. Ná sy pa se skielike dood moes hy oorneem – nog skaars klaar met skool.

Maar dié wat weet, het nooit getwyfel dat hy ’n sukses sou maak nie. Want hulle het Gert én sy kakebeen geken. ’n Sterk kakebeen, met die ken effens vorentoe, wat praat van vasberadenheid en deursettingsvermoë.

Die Karoo-son het die manier om jou te brand tot hy net so vaal soos die landskap is. Met Gert was dit ook die geval. Sy hare het van blond na kleurloos verbrand; sy oë was so grys soos die stof in die pad kraal toe.

Met die droogte en sprinkane en veesiektes het Gert deurgebyt. Daar was mense in die distrik wat selfs sou sê Gert is ’n welgestelde boer. Al wat hy nodig gehad het, was ’n vrou. Hubare nooiens is nie meer volop op die platteland nie.

En omdat Gert nie tyd vir universiteit gehad het nie, was sy geleenthede min. Die tantes in die distrik en op die dorp het dogters en kleindogters, niggies en kennisse voorgestel, maar nie een kon ’n lig in Gert se grys oë aansteek nie.

Tot die aand dat hy ná ou Sarah se reuse- aandete die landboutydskrif oopslaan–en die nuwe suiwel advertensie sien.

Gert Scholtz is nie ’n man wat gewoonlik na suiwel advertensies kyk nie. Dié vir skaapdip en stoetveilings is ’n ander saak. Maar dié een trek sy oog.Want die model wat by die heerlike bord kaasprodukte sit, is sy soort meisie.

Haar groot mond glimlag breed. Die lagplooitjies speel om haar donkerbruin oë. En haar swart hare tuimel blink tot op haar skouers.

Sy is mooi, dink Gert. En interessant. Met ’n sin vir humor. Sy lyk sterk en gesond. Soos ’n vrou wat haar kant sal kan bring op ’n Karooplaas.