Daar is nóg ’n nuweling in die kompakte luikrug-segment – die nuwe Mazda2.

[post-slider]

Sedert die begin van die jaar woel dit in hierdie motorsegment met die bekendstelling van die nuwe Hyundai i20, Opel Corsa en opgekikkerde Kia Rio. Nou is Mazda ook gerat om ‘n sterk mededinger te wees in die segment waar die VW Polo steeds koning kraai en die Renault Clio en Ford Fiesta ook gewild is.

Die Mazda2 het egter ’n goeie reputasie aangesien sy voorganger immers op sy dag Suid-Afrika se motor van die jaar was. Boonop het Mazda hard gewerk om verder op die nuwe generasie te verbeter.

Die motor spog met hope nuwe tegnologie terwyl pryse baie mededingend is.

Boonop is daar ‘n keuse van petrol- en dieselenjins. Kopers ook kan kies tussen sesspoed hand- en sesspoed outmatiese ratkasse.

Die 1,5 L petrolenjin ontwikkel 82 kW se krag teen 6 000 r/min en 145 Nm wringkrag teen 4 000 r/min. Volgens Mazda is die enjin se gemiddelde brandstofverbruik sowat 5,5 L/100 km. Die dieselmodel het ook ‘n 1,5 L turbo-enjin wat 77 kW teen 4 000 r/min en 250 Nm teen 1 500-2 500 r/min uitskop. Die gemiddelde brandstofverbruik is 4,4 L/100km. Die petrolmodelle is in drie-afwerkingsvlakke beskibaar: Active, Dynamic en Individual. Die topmodel, die diesel, is in Hazumi-vlak te kry.

'Selfs die intreevlak Active-weergawe het talle kenmerke as standaard.'

Selfs die intreevlak Active-weergawe het talle kenmerke as standaard soos lugverkoeling, eletriese vensters, ‘n klankstelsel met kontroles op die stuurwiel en ’n USB-konneksie

Die Dynamic-model sal in alle waarskynlikheid die gewildste model wees met bykomende kenmerke soos Bluetooth, 15-duim allooiwiele, elektriese spieëltjies en ’n beter klanstelsel met ’n volkleur-raakskerm.

Individual-modelle het weer 16-duim allooiwiele en outomatiese hoofligte, terwyl die Hazumi-weergawe klimaatbeheer, navigasie, leerafwerking en stabiliteitsbeheer bied.

Veiligheidskenmerke dwarsoor die reeks sluit in ABS-remme en voorste lugsakke.

Boonop het al die Mazda2 modelle ’n drie-jaar en onbeperkte kilometer waarborg en ‘n drie-jaar diensplan.

Pryse:

  • 1,5 Active - R188 500
  • 1,5 Dynamic - R199 900
  • 1,5 Dynamic AT - R211 300
  • 1,5 Individual - R211 400
  • 1,5 Individual AT - R222 800
  • 1,5 DE Hazumi AT - R259 900