Deur Mari-Louis Guy

Elke bakker het sy/haar Achilleshiel en koeksisters is myne. Dalk verwag ek net te veel, maar ek was nog nooit 100 persent tevrede met my pogings nie. Dit beteken gelukkig dat ek nooit koeksisters in die huis het nie. Ek onderhou wel ’n hele paar tuisnywerhede en padstalle met my liefde vir koeksisters. Mooi goud buite, dan daardie kraak as jy inbyt en die stroperige verrassing binne uitbars.

Maar koeksisters is soos vroue: nie een is dieselfde nie.

Ongelukkig beteken dit ook dat my motor se stuurwiel permanent taai is van die stroop en dat geen koeksister dit steeds tot by my huis maak nie.

Toe ons dus in gisteraand se episode vir die Koekedore koeksisters as eerste taak stel, het ek hulle soos 'n valk dopgehou. Maar koeksisters is soos vroue: nie een is dieselfde nie.

Gerda: “Jy knie nooit koeksisterdeeg nie.”

Mareli: “Die groot geheim is dat jy die deeg moet knie; dis wat niemand jou vertel nie.”

En tog, ondanks dié enorme verskil was albei se koeksisters pure perfeksie. Elkeen se knoop-en-vleg-aanslag het verskil, en snaaks genoeg het niemand die outydse vlegsel voorgesit nie.

Gerda het haar koeksistertitel en -status behou en ook die allerpragtigste vrugtetert prakseer.

Ons moes die liewe bonthempie Gerrit van Dalen groet, maar hy is op ’n hoogtepunt uit. Sy Concorde-druiwetert is ’n juweel en beslis iets wat ek self sal maak.

[post-slider]

Ek, boet Callie en ons vriendin Melody Deas het sommer vir die pret ’n baie eenvoudige melktert gedemonstreer in ’n video: Die Kwaai Bakker.

Mari-Louis Guy is medebeoordelaar op Koekedoor, ’n vryskut kosstilis en skrywer van Koeke Ter Viering van Liefde en Lewe, Cakebread Pudding&Pie, Love&Food: The Market Book, Markdag en Onthaal op Groot Skaal

Volg haar gerus op die volgende media