[caption id="attachment_60567" align="aligncenter" width="600"]Come Dine With Me Deelnemers val weg aan hul voorgereg in Come Dine With Me South Africa. © BBC[/caption]

DAAR’S iets wat my na Come Dine with Me aantrek. Ek betrap myself heeltyd dat ek die plaaslike weergawe kyk of my verlustig in Britse episodes as ek te lui is om van kanaal te verander. En as ek eers een episode gesien het, moet ek eenvoudig die hele boksemdaais kyk.

Dit lyk soos ’n vreesaanjaende program om aan deel te neem: Ek wil regtig nie hê die snaakse stempersoontjie, Dave Lamb, moet oor my en my lewe grappies maak nie – maar die prysgeld van R10 000 is miskien ’n goeie aansporing.

As jy nie die program kyk nie, is dit maklik om by enige episode in te val omdat hulle nie veel met mekaar te doen het nie (vir die Britse een moet jy ’n reeks van vyf episodes kyk wat die verhaal van een ete vertel, in Suid-Afrika is dit een ete per episode).

Vier vreemdelinge (vyf in die Britse reeks) kry ’n begroting en elkeen moet dan die ander tuis onthaal met ’n maaltyd wat bestaan uit ’n voor-, hoof- en nagereg. Almal ontspan agterna in die gasheer/vrou se slaapkamer terwyl hulle oor die aand kla of dit ophemel. Op pad terug huis toe gee hulle vir mekaar ’n geheime punt uit 10, en aan die einde van die episode is die een met die hoogste punte die top-gasheer/vrou en wen al die geld.

Dis ’n eenvoudige idee en dis vermaaklike kykstof omdat die deelnemers mekaar dikwels met die eerste ete verdra, teen die tweede een begin kla en teen die derde of vierde ete heeltemal geniepsig word.

Nadat jy ’n paar episodes gekyk het, begin jy agterkom dat die deelnemers in kategorieë val en dat sekere dinge oor en oor gebeur. Soek ’n bietjie hierdie karakters – dis alles deel van die pret.

Die klapot

Daar is amper altyd ’n kermkous, soms ’n baie ongepoetste kermkous. Dis die een wat van niks en niemand hou nie, en jy wonder die meeste van die tyd waarom op aarde hulle aan so ’n program deelneem. O wag, hulle het ’n kans van een uit vier om R10 000 te wen . . .

In een van die vroeëre episodes van die huidige reeks was daar ’n vrou wat die meeste geregte van die ander deelnemers nie kon verdra nie en die kos in haar servet uitgespoeg het. Wie doen so iets? Soos een van die deelnemers gesê het: As jy nie daarvan hou nie, sluk jou happie en sê dan nee dankie. Tog het sy van die ander verwag om haar kos te eet sonder om te kla. Uiteindelik het die ander die geregte begin ophemel net om vir haar ongeskiktheid te vergoed.

Die een met ’n skroef los

Die van lotjie getikte, aweregse deelnemer word in twee groepe verdeel: dié wat hulleself prontuit identifiseer as stapelgek, vreemd of nie heeltemal normaal nie; en dié wat nie besef hulle is stapelgek, vreemd en nie heeltemal normaal nie. Ek hou van die tweede groep; ek hou van hul onskuld en hulle is dikwels liewe mense (ek was gefassineer deur die ou in die plaaslike reeks wat so mal oor perde was). Die eerste groep probeer gewoonlik te hard om ’n indruk voor die kameras te maak en word gou onuitstaanbaar.

Die wysneus

Wysneuse is meestal verkleinerend oor die spyskaart, bitsig oor die gasheer/vrou se binneversiering, styl en kosbereiding, en kan nie wag om venynig te reageer op wat ook al gesê word nie. Hulle sal meestal vir die kamera vertel hoe maklik dit was om ’n sekere gereg te maak of hoe verkeerd dit gemaak is. Hulle sal die ander ook taamlik lae punte gee en aan die einde van die program nie verstaan hoekom hulle nie gewen het nie, of vertel hoe glashelder dit was dat hulle wel sou wen.

Die dronkie

Dié ou is nie so dikwels in die SA reeks te sien nie, maar is omtrent ’n instelling in die Britse weergawe. Hulle kan óf baie vermaaklik wees, óf net klaaglik. Dis gewoonlik hulle wat in die warm borrelbad eindig. Soms is dit die gasheer/vrou wat geswaai raak terwyl hulle die kos berei, tot die eindelose vermaak van die stempersoontjie.

Die troeteldier-eienaar en die troeteldier-hater

Een van die dinge wat my en blykbaar ander kykers ook pla, is die mense wat katte het wat oor die toonbank dwaal terwyl hulle kook, of – en dis moeilik om te probeer vergeet jy het dit gesien – aan die kos peusel. Jig! Ek krimp ineen as ek sien hoe die mense kos eet waaraan ’n kat geproe het.

Aan die ander kant is daar mense wat glad nie van troeteldiere hou nie en bekommerd lyk as hulle ’n hond sien, tot die stomme hond uiteindelik buitentoe gejaag word. Ek het dit nie so baie in die huidige SA seisoen gesien nie, maar dit duik wel in die Britse een op.

  • Kyk Come Dine with Me SA, reeks 3, op  BBC Entertainment, Maandae, 20:00. Hier is ’n lusmakertjie:

  • Kyk die Britse weergawe elke dag op BBC Entertainment en BBC Lifestyle.

- Natalie

Natalie Cavernelis Natalie Cavernelis is blogredakteur en eindredakteur: handelsmerkuitbreidings by Huisgenoot se sustertydskrif, YOU.  Sy is ’n oudredakteur van die TV-tydskrif TV Plus, is verslaaf aan haar gesin, TV, fliek en lees, en het ’n spesiale belangstelling in die populêre kultuur. Sy skryf ook omtrent al ons boekvraat-blogs oor Engelse boeke. Volg haar op twitter @NatalieCav.