Darren Scott en sy vrou, Sarah-Kate, het hul baba Matthew in September vanjaar verwelkom. Dit was die kersie op die koek vir ’n wonderlike 2013 nadat hulle ’n hele paar terugslae beleef het vandat Jacaranda 94.2 die omroeper in 2011 die trekpas gegee het.

Ons kyk na ’n tydlyn van hoogte- en laagtepunte.

SEPTEMBER 2011 – Sy bedanking by Jacaranda 94.2 haal die nuus. Hy het sy kollega Africa Tshoaedi tydens die stasie se spanbou die K-woord genoem nadat dié nie die geld terugbetaal het wat Darren hom geleen het nie. Hy los kort daarna sy werk by SuperSport.

MAART 2012 – Die Scotts hoor hul 15 maande oue seun, Mark, het kanker. Hy kry dadelik chemoterapie om die groot gewas aan sy regternier te behandel.

APRIL 2012 – Darren stel die aanlyn radiostasie Ballz Visual Radio bekend.

MEI 2012 – Klein Mark ondergaan ’n operasie om die gewas te verwyder. Tydens die operasie word vasgestel hy het ’n verdraaiing in sy ingewande wat dodelik kon wees as dit nie ontdek is nie. Dit word herstel en die gewas word verwyder.

NOVEMBER 2012 – Mark kry sy laaste ronde chemoterapie en die gesin vier die sukses van die behandeling.

JANUARIE 2013 – Darren kry ’n kankerskok. ’n Sproet op sy gesig blyk ’n kwaadaardige melanoom te wees. Die dokters verwyder die kanker suksesvol sonder dat dit versprei.

FEBRUARIE 2013 – Die egpaar kry sommer baie goeie nuus. Mark se laaste ultraklank toon hy is kankervry, Darren se velkanker het geen kans om te versprei nie en hulle verwag nog ’n baba.

SEPTEMBER 2013 – Baba Matthew word gebore en die gesin is dankbaar vir hul seëninge ondanks al die swarighede wat hulle verduur het.

WEGGEE

Een gelukkige leser sal ‘n Donna Mia-gelukbringer-armand ter waarde van R4 800 wen. SMS die woord DONNA, die antwoord op die vraag hier onder en jou naam voor 17:00 op Donderdag 28 November 2013 na 34923.

Vraag: Hoe oud is Mark Scott?

R1,50 per SMS.