Alles het begin as ’n onskuldige vriendskap – min het hulle geweet op watter ver paaie hul brandende emosies hulle nog sou neem...

Teken in op Huisgenoot

Het 7de Laan-kykers iets vermoed toe hulle verlede maand sien hoe Herman Croukamp geraak word deur die aanskoue van Felicity Daniels, so jonk aan ’n rolstoel gekluister? Toe hy van die rolstoel-dansklasse hoor, het hy dadelik aangebied om haar te neem en sommer ook haar dansmaat te wees.

Die lesse was ’n treffer. En te midde van die pret op die dansbaan het die twee se vriendskap ál intenser geraak. Eers het hulle probeer ontken dat hulle romantiese gevoelens vir mekaar begin koester, maar uiteindelik kon die werklikheid nie meer ontken word nie. Toe, een aand ná ’n dansles, gee hulle hulle aan passie oor.

En nou gis sepieslawe landwyd heerlik oor die toekoms van dié nuutste liefde in die Laan, terwyl Melanie du Bois (33) en Deon Coetzee (47), die akteurs wat die rolle vertolk, net geheimsinnig en betekenisvol glimlag.

Maar dalk lig Melanie tog so effens die sluier wanneer sy sê: “Sien, Felicity is nie ’n selfsugtige mens nie. Ander se geluk is vir haar belangriker as haar eie. Dit kan dalk net wees dat sy later dink as parapleeg sal sy nie die warmbloedige, sportiewe Herman vir altyd gelukkig kan hou nie.”

En Herman is warmbloedig, dit weet die kykers nou alte goed ná die warm vryery met Felicity. Wat ons laat wonder: Hoe voel dit om een van Suid-Afrika se hubaarste mans te soen?

Melanie lag eers verleë, maar toe Deon haar aanpor, bely sy: “Wel, as ek namens Felicity kan praat... sou ek sê Herman soen baie beter as Neville!”