Die doel van die laaste toetssessie was om die veringveranderings en ander detail af te teken en die instelling van die jongste Toyota Hilux-renbakkie vir die Dakar aan te teken.

"Ons jongste toetswerk noord van Upington was ’n groot sukses"
“Ons sal egter steeds aanhou werk en goed verfyn totdat die groen vlag vir die wegspring van Sneltrajek 1 val,” sê Glyn Hall, hoof van die Toyota Gazoo Racing SA-renspan. “Renmotors word permanent ontwikkel en is nooit 100% gefinaliseer nie, maar ons jongste toetswerk noord van Upington was ’n groot sukses en het ons aftekenproses voor die ren aansienlik versnel.”
“Die nuwe Hilux is op elke denkbare manier beter as sy voorganger”

Giniel de Villiers sowel as Leeroy Poulter het regdeur die seisoen elk honderde bykomende toetskilometers afgelê, terwyl De Villiers se Duitse navigator, Dirk von Zitzewitz, ook waardevolle ondervinding van die jongste renweergawe wat by Toyota Motorsport se werkswinkel by Hallspeed die lig gesien het, opgedoen het.

“Die nuwe Hilux is op elke denkbare manier beter as sy voorganger,” het De Villiers aan die einde van die toetssessie gesê. “Die span het ongelooflike vordering met die motor gemaak en ek is vol vertroue en voel op die oomblik baie goed daaroor.”

Die renvoertuie het nie net presies gevaar soos verwag is nie, maar het ook hul uithouvermoë bewys deur rondte vir rondte in versengende hitte van oor die 45 grade onder die moordende Kalahari-son af te lê. Die roete het vinnige, plat dele, klipperige spronge en sagte sanderige duine ingesluit ? die perfekte kombinasie om die toestande wat in die Dakar verwag word, na te boots.

[post-slider]

De Villiers en Von Zitzewitz sal weer deur Poulter en Rob Howie vir die 2016-Dakar-veldtydren gesteun word. Hierdie keer sal die Saoedi-Arabiese sterjaer Yazeed al Rajhi hom by die span aansluit. Het hy die Duitse navigator Timo Gottschalk langs hom in die motor, en hulle het vroeër in November ’n kort toetslopie van hul eie in Suid-Afrika kom doen. “Ons is baie opgewonde om te sien wat Yazeed en Timo in die ren sal kan doen, en ons vertroue is versterk deur die positiewe terugvoer wat ons van hulle ontvang het sowel as ons eie toetssessie verlede week,” het Hall afgesluit.

"Altesaam 42 verskillende Toyota-voertuie sal in die 2016-Dakar-veldrenbyeenkoms deelneem"

Sodra die voertuie in Suid-Amerika aankom, sal die span begin om die renmotors te monteer, die ondersteuningsvragmotors te pak en voor te berei, en dan een laaste toetsessie doen voordat hulle na die Argentynse hoofstad Buenos Aires vir die begin van die 2016-Dakar-veldtydren vertrek.

Altesaam 42 verskillende Toyota-voertuie sal in die produksiemotor-afdeling van die 2016-Dakar-veldrenbyeenkoms deelneem. Hoewel die meeste van hulle Toyota Hilux-renbakkies is wat in Suid-Afrika deur Toyota Motorsport ontwerp en gebou is, is net die drie voertuie wat deur Toyota Gazoo Racing SA ingeskryf is, deel van die amptelike fabriekspan.

Die Overdrive-renspan, ’n onafhanklike operateur van België, het ’n sterk span jaers en sal vyf Toyota Hilux-voertuie inskryf, waarvan een deur Toyota van Frankryk geborg word.

Die byeenkoms begin op 2 Januarie 2016 en sluit op 16 Januarie in Rosario af. Tussen-in lê 13 sneltrajekte deur Argentinie en Bolivia, met ’n rusdag op 10 Januarie in die Argentynse stad Salta.

KLIEK HIER vir meer inligting oor Dakar 2016.