VROEGDAG is dit al ’n geskarrel in die Idols-huis.

Toe die ysterhekke na die luukse gastehuis in Northcliff oopgly, trek ’n swart viertrekvoertuig uit met Pieter West agterin. Hy glimlag, maar lyk benoud. Vanaand is D-dag. Vanaand vind hy uit of hy een van die vyf gelukkige deelnemers uit groep een is wat ’n plek in die top-10 losgesing het.

In die huis is die sewe deelnemers van groep twee al vroegoggend aan die sing. Uit die kombuis kom ’n ge-la-la-la toe Funeka en Jamie-Lee hul stem opwarm vóór Malie Kelly, hul stemafrigter, hulle onder hande neem.

“Jong, jy kon die atmosfeer vanoggend voel toe jy by die voordeur instap,” vertel die babbelkous Funeka. Almal is gespanne, want die eerste groep sal vanaand hoor wie bly en wie ry ná hul eerste optrede. Terwyl groep een heeldag by die teater met repetisies besig het, skaaf die ander deelnemers by die gastehuis aan hul eerste optredes.

In die TV-kamer sit Adeline doodstil by ’n tafel. ’n Oortegnikus maak afdrukke van elkeen se ore, sodat hul gehoorapparate nommerpas gemaak kan word. Hulle gebruik dit sodat hulle hulself kan hoor sing, selfs al lawaai die gehoor.

“Oe, ek hoop julle het julle ore gewas,” groet Malie vrolik toe sy instap.

Voor die TV sit Gail en Zintle ’n koppie koffie en drink, terwyl Lloyd en Elvis Blue vasgenael voor hul rekenaars sit. “Ons moet gedurig twiet en updates op Facebook laai,” verduidelik Adeline.

Al het hulle nie hier tyd vir stilsit en niksdoen nie, geniet hulle die lewe in die Idols-huis gate uit. “Ons is soos stout kinders,” vertel Adeline. “Die krag by die gastehuis waar ons tydelik bly, was een aand af, toe besluit ons meisies om die ouens te gaan bang maak.”

Natuurlik het die idee geboemerang toe hulle ’n stoel voor die manne se kamervenster omstamp. “Ons het so bang geword dat ons net begin hardloop het. Funnie (Funeka) het sommer in ’n bos geduik. Zintle het so vinnig weggehardloop dat ons haar nie eens gesien nie – sy het net weg geraak,” vertel Adeline.

Maar moenie dink dis net die meisies wat kattekwaad aanvang nie. “Elvis is ’n vyfjarige in ’n 30-jarige se lyf,” verklap Funeka.

“Hy laat ’n mens die heeltyd lag,” voeg Gail by terwyl sy en Funeka  potspel speel.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 2 September 2010