MET dieselfde skaam glimlag waarmee hy elke Vrydagaand in miljoene Suid-Afrikaners se hart gekruip het, maak hy die voordeur oop in sy noupypjeans, ’n T-hemp en pantoffels.

Suid-Afrika se nuutste Supersterre-wenner,Burger le Roux (20), is terug op Robertson, sy tuisdorp in die Wes-Kaap, en sy mense is nie bietjie trots op hom nie.

In die kombuis hang sy foto met die woorde: “Robertson se Superster! Welkom terug, ons klong.’’ Robertson het ’n nuwe burgemeester, verkondig ’n koerant, en die polisie hou in die middel van die pad stil om blad te skud toe hulle hom in die dorp gewaar.

So amper het die held al die glorie verpas – hy was byna nie lus vir wéér probeer nie. “Ek het met die vorige twee Supersterre ingeskryf, maar nie eens die top-10 gehaal nie,’’ vertel hy hier in die sitkamer waar die gasvrye huismense drinkgoed en lekkernye aandra.

“My vriende het my met die laaste oudisie oorreed om tog maar te gaan. Ek het besluit om Ryperd as ’n grap te sing. Ek was nie bekommerd of ek gaan inkom of nie, en toe haal ek dit sowaar!”

Enkele dae nadat hy as wenner van die gewilde TV-werklikheidsreeks met ’n platekontrak van R500 000 en R100 000 kontant weggestap het, het Burger eers op sy tuisdorp kom asem skep voor hy binnekort Johannesburg toe trek. Hy moet sy eerste album gaan opneem, want dit moet oor drie maande op die rakke wees. Boonop is daar planne vir ’n landwye toer.

“Ek wil graag ’n kommersiële rockalbum uitreik, iets soos Prime Circle se musiek,” sê hy. Hy sal Afrikaanse en Engelse liedjies sing.

Lees meer oor Burger in die Huisgenoot van 24 Junie 2010