BMW het aangekondig hulle gaan sowat 1,6 miljoen motors herroep omdat dit foutiewe lugsakke het wat deur Takata Corporation vervaardig is.

Hulle het gesê die terugroep behels dat elke motor se voorste passasierslugsak vervang moet word omdat die lugsak se pomp tydens ontplooiing kan breek en die persoon beseer wat dit moet beskerm.

Die fout raak 3-reeksmodelle wat tussen Mei 1999 en Augustus 2006 vervaardig is.

’n Plaaslike woordvoerder het gesê sowat 47 000 van die geaffekteerde motors is in Suid-Afrika verkoop, berig Wheels24.

BMW het verduidelik: “Potensiële probleme met gasgenerators van dieselfde verskaffer wat in ons mededingers se voertuie breek het in party gevalle duidelik geword.

“BMW is nie bewus van ’n geval met ’n BMW-voertuig nie. Die vervangingsveldtog is ’n vrywillige voorsorgmaatreël wat die risiko vir die aktivering van ’n foutiewe lugsak wil verminder.

“Klante wat geraak word, sal deur BMW in kennis gestel word. Dit spreek vanself dat BMW die koste van die gehaltemaatreël sal dra. Die regstelling van die probleem sal sowat ’n uur duur.”