Navorsing oor hoe om die mensdom by Mars uit te kry is hul belangrikste prioriteit, maar ruimtevaarders moet ook aandag skenk aan hul higiëne en skoonheidsroetine . . . en hulle doen dit so.

[caption id="attachment_127957" align="aligncenter" width="600"]Ruimtevaarder Karen Nyberg met halfnat hare wat bo haar kop dwarrel. Die Amerikaanse ruimte-ingenieur Karen Nyberg wys hoe sy haar hare op die Internasionale Ruimtestasie was. Foto: NASA[/caption]
Dis gewis geen maklike taak om daar bo in die ruimte jou hare te was, jou naels te knip of jou lyf skoon te kry nie. Behalwe dat alles weens gewigloosheid om jou ronddryf, is water ook geneig om amper soos ’n jel aan jou vel  te klou.

So was jy jou hare in die ruimte

Ruimtevaarders op die Internasionale Ruimtestasie (IRS) gebruik ’n spesiale sjampoe wat nie uitgespoel hoef te word nie. Hulle spuit eers ’n bietjie water uit ’n sakkie op hul hare en werk dit dan deur. Borrels water dryf soms weg en moet eers gevang word.

Daarna masseer hulle die sjampoe by hul kopvel in, baie soos ons dit op Aarde doen. En ten laaste vryf hulle hul hare droog met ’n handdoek, gevolg deur nog ’n bietjie water wat deurgekam word om van enige oorblywende sjampoe of vuiligheid ontslae te raak.

Die water wat vanaf hul nat hare verdamp, kondenseer en word opgevang om herwin te word vir drink- en ander doeleindes.

Die ruimtevaarders moet baie versigtig wees dat haartjies nie van die handdoek afval nie, want drywende hare is gevaarlik. Dit kan by die ruimtevaarder se mond indryf, hul oë irriteer, of filters op die IRS verstop - met slegte gevolge vir die lugreëlingstelsel.

G’n wonder baie ruimtevroue laat hul hare knip voor hulle IRS toe gaan nie!

Hier is ’n video waarop die Amerikaanse ruimte-ingenieur Karen Nyberg wys hoe sy haar hare was:

So knip jy jou hare in die ruimte

[caption id="attachment_127961" align="aligncenter" width="600"]Foto waar Samantha se hare deur ander ruimtevaarders geknip en opgesuig word. Die Italiaanse ruimtevaarder Samantha Christoforetti laat haar hare deur haar kollegas sny. Foto: ESA[/caption]

Dis net so ’n kuns. Ruimtevaarders moet mekaar se hare sny en dit die hele tyd opsuig om seker te maak die hare dryf nie rond en beduiwel die IRS se lugrelingstelsels nie. Kyk op dié video hoe dit gedoen word.

So knip jy jou naels in die ruimte

[caption id="attachment_127963" align="aligncenter" width="510"]Foto van Samantha Christoforetti wat haar naels teen die ventilasie-rooster knip. Samantha knip haar naels by die ventilasie-rooster. Foto: ESA[/caption]

Die laaste ding wat jy op die IRS nodig het, is stukkies nael wat rondvlieg en in die biljoen-rand-toerusting op die IRS vassteek. Dis hoekom ruimtevaarders hul hande teen ’n ventilasie-rooster hou wanneer hulle hul naels knip. Die rooster suig die stukkies nael vas, en die ruimtevaarder suig dit agterna weer uit met ’n stofsuierpyp.
Op die video hieronder verduidelik Samantha al die higiëne-kunsies op die IRS: hoe om jou hare te was, naels te knip, tande te borsel en te "stort" te midde van gewigloosheid . 

Van die ruimte gepraat . . . 

  •  Huisgenoot se publikasie Reis na die Ruimte kos R45 en is in winkels te kry. As jy dit by die Gateway to Space-tentoonstelling (sien onder) koop, is dit boonop net R40! Dis vol interessante ruimtefeite en -stories soos hoe die lewe op Mars sal wees, watter vuurpyle en ruimtetuie die imposantste is, ruimtevaarders (ook vierpotiges) en, les bes, hoe ’n mens te werk moet gaan om ’n ruimtevaarder te word.

Voorblad Huisgenoot Reis na die Ruitme

En dan is daar natuurlik Huisgenoot, YOU en Drum se imposante ruimte-tentoonstelling Gateway to Space in Sandton. Koop jou kaartjies sommer nou deur op die foto hieronder te klik!

Skermgreep van die Gateway to Space webtuiste