Naam en van:

Belinda van der Merwe (27).

Waar het jy studeer?

Die Universiteit van Pretoria.

Wat het jy studeer en hoe lank?

B.A. in arbeidsterapie. Dis ’n vier-jaar-kursus, waarna jy ’n jaar gemeenskapsdiens moet doen om by die Raad op Gesondheidsberoepe as onafhanklike praktisyn te registreer.

Waar kom jy vandaan?

Ek kom oorspronklike van Pretoria, maar woon nou in Kaapstad.

Hoekom het jy arbeidsterapie gekies?

Ek was altyd lief vir mense wat verwerp word omdat hulle anders is, op watter manier ook al, en het gewens ek kon ’n verskil in hul lewe maak.

Hoe lank werk jy al as arbeidsterapeut?

Vanjaar is my vyfde jaar.

Wat is die voordele en uitdagings van hierdie beroep?

Voordele: Jy word betaal om met mense te werk en hulle te help. Omdat mense uniek is, het elke geval nuwe uitdagings en jy raak selde verveeld. Dis ’n wye veld en daar is baie geleenthede.

Uitdagings: Faktore buite jou beheer, byvoorbeeld as jy nie genoeg hulpbronne het om pasiënte in die openbare sektor te help nie of pasiënte wat nie terapie kan bywoon nie weens ’n uitgeputte mediese skema (in die privaat sektor).

Watter karaktereienskappe dink jy pas by dié beroep?

Jy moet passievol wees daaroor om mense te help, kreatief dink, goed wees met probleemoplossing en jou mening kan lug. Jy moet aanpasbaar wees en gemaklik daarmee wees dat alles nie altyd sin maak nie.

Hoe goed is die vergoeding oor die algemeen?

Dit hang af van die veld waarin jy werk (pediatrie, liggaamlik, psigiatrie of gemeenskap), of jy in die privaat of openbare sektor werk, die aantal jare wat jy werk en of jy jou eie praktyk het of vir iemand anders werk. Jy gaan dalk nie ryk word nie, maar genoeg verdien om ’n bestaan te maak.

Watter raad het jy vir voornemende arbeidsterapeute?   

Dis ’n reis met hoogtepunte en laagtepunte as jy dit gaan studeer en jy gaan soms wil tou opgooi, maar as jy volhard, sal jy ’n dieper begrip van jouself, ander en die wêreld kry.

Watter skoolvakke het jy nodig om hiervoor te studeer?

Die toelatingskriteria het met die jare verander, maar dit lyk of jy wiskunde moet hê, en fisiese wetenskappe of biologie sal ook voordelig wees.

Hoe bevredigend is jou beroep, op ’n skaal van een tot 10?

Agt (sommige dae dit ses; ander dae 10).