Suid-Afrika se topwiele van 2016 moes omtrent oor ’n klomp hekkies seil. Maar eindelik het die Volvo XC90 nou die gesogte WesBank SA Gilde van Motorjoernaliste (SAGMJ)-prys vir die Motor van die Jaar losgery.

Die verheugde besturende direkteur van Volvo SA, Greg Maruszewski, het daarop laat hoor: “Ons etos van ‘gemaak deur Swede’ gee uitdrukking aan ons liefde vir mense en ons ingesteldheid om van die wêreld se begeerlikste en veiligste luukse motors te skep.”

Volgens Bernard Hellberg jr., voorsitter van die SAGMJ, is dié prys daarop gemik om die motor te vind wat voortreflikheid betreffende sowel tegnologie en ingenieurswese as waagmoed in motorontwerp die beste vergestalt. Die Ford Fusion was die naaswenner en die Mazda2 derde. Die ander finaliste, wat aan ’n strawwe dae lange keuringsproses deur 27 beoordelaars onderwerp is, het ingesluit: die BMW i3, Citroën C4 Cactus, Honda HR-V, Jaguar XE, Kia Sorento, Land Rover Discovery Sport, Opel Adam, Opel Corsa en Peugeot 3.

Intussen het WesBank ’n kommerwekkende scenario oor motorbekostigbaarheid vorentoe geskets: Nuwe voertuigpryse kan met tot 60 persent styg teen 2019 as die rand-dollar-wisselkoers $1/R20 bereik.

Bronne: SAGMJ, ENCA, wheels24.co.za, autodealer.co.za