Deur Mari-Louis Guy

Elke nasionaliteit het natuurlik sy voorkeure en veral Amerikaanse oggendgebak was my gunsteling in die jare dat ek op plesierbote gewerk het. Suurlemoenbroodjies, enorme skons, bagels, beignets en stapels pannekoeke druppend van die stroop, brosgebraaide spek en lig geklopte botter. Strooisel-muffins en ook heerlike gisgegeurde Engelse muffins. In ons Suid-Afrikaanse winter is geurige pannekoeke met troostende kaneel weer sonder weerga.

’n Gasvrou op een van die bote waarop ek gewerk het, het beslis dat daar elke dag agt soorte gebak vir ontbyt moes wees en dat dit op die boot gebak moes word. Om te illustreer hoe absurd my lewe soms was: Een oggend was sy woedend vir my want van haar kajuit af kon sy net vier soorte gebak ruik en sy was oortuig ek het haar probeer flous deur die ander vier te gaan koop. Ek moes mooi verduidelik dat ek dit sowaar nêrens kon gaan koop het nie omdat ons diep in die see aan anker gelê het . . .

In Koekedoor episode 2 moes die deelnemers met drie ontbytbaksels vorendag kom (Mareli was die wenner):

Tuisgebak: Familieresepte vir vinnige meelmengsels. Tish se gemmerbroodjie en Mareli en Caroli se piesangbroodjies het vir my uitgestaan.

Fyngebak: Hulle moes Tiaan se resep gebruik en nartjie-en-anys-mosbolletjies in die brioche-pan met witdruiwesap pleks van mos bak en die bolaag met gebrokkelde suikerblokkies versier. Gerrit se brioche was pragtig en ervaring het beslis hier getel.

Pronkgebak: Dit moes Deense gebak met ’n eg Suid-Afrikaanse kinkel wees.

Hier het Murray se geure en vorms beïndruk.

Die Koekedore vertel self hoe hulle die uitdagings ervaar het (Mareli was die wenner in die tweede episode:

[post-slider]

Mari-Louis Guy is ‘n beoordelaar van kykNET se Koekedoor-werklikheidsreeks, professionele kosstilleerder en resepontwikkelaar. Sy gaan gereeld vir Huisgenoot.com blog oor Koekedoor en so ‘n kykie agter die skerms gee.nner