Die spanmaats Theresa de Vries en Rendil Pieterse het hul mes vir mekaar ingehad en kort voor lank was Theresa in trane. Trudie Niehaus was ook in trane omdat sy nie kan bak nie en voel sy het haar spanmaat, Ida Kloppers, in die steek gelaat.

En as die kersie op die koek is niemand uitgestem nie, maar die spanlede geskommel.

Sarel Loots en tannie Poppie Coetzer se paadjies is toe geskei en hy en Riekies Huisamen is nuwe spanmaats. Gaan dié span beter saamwerk? Of was tannie Poppie se benadering dalk nie so goor nie? Ons sal moet wag tot volgende Donderdag 2 Mei om 20:00 op kykNET om te sien.

In tussen het ons vinnig met Sarel van Sabie gesels oor sy ervaring in Kokkedoor.

Hoe was die ervaring vir jou tot dusver?

Ongelooflik ! Die mense, vervaardigers en aanbieders is mens-mense en dit plaas die program in ’n ander klas. Prins Albert is ’n pragtige dorp en die mense se gasvryheid is ongelooflik. Daar is seker nie ’n beter plekkie om die program te huisves nie.

Jy was vierde in die eerste MasterChef Suid-Afrika, hoe verskil die twee programme?

Die een groot verskil is dat ons kook in Afrikaans en werk met geregte waarmee ek groot geword het. Die opdragte is dan ook nie voorgesit in die vorm van ’n porsie nie, maar kos wat gesinne bymekaarbring. Lekker gesinskos !

Wat sal jy onthou van jou spanmaat tannie Poppie?

Wat ’n voorreg om saam met so ’n ongelooflike dame te kon kos maak. Sy het soveel ervaring en kennis. Ek het elke dag by haar geleer. Ek het nuwe waardering vir die talente van ons meer ervare lede van die samelewing. Mag ons dit wat hulle weet, leer en aan ons kinder leer.

Dink jy jy en Riekies kan lekker saamkook?

Ek en Riekies het ’n baie eenderse agtergrond en uitkyk op die lewe. Tog het ons albei ’n sterk persoonlikheid en ons eie idees van hoe seker geregte moet lyk. Maar ons is nogtans ’n goeie span met unieke talente.

Wat dink jou vyf kinders van jou deelname aan Kokkedoor?

Hulle is my grootste ondersteuners. Hulle is baie trots op my, maar hulle mis my baie en ek vir hulle wanneer ek so lank van die huis af weg is. Dit is seker die een ding wat deelname aan werklikheidsreekse sleg maak: om weg te wees van ’n man se gesin.

Watter opwindende projekte het jy als in die pyplyn?

Daar het soveel opwindende geleenthede na my toe gekom. Ek het nou al ’n gevestigde geselsprogram op Radio Laeveld elke Woensdag asook op Kaapkansel op Donderdae. Dan is daar my en Sarah Theron se Chef en die Diva-projek waar ons kos en musiek saam op die verhoog plaas.

Ek doen ook baie spanbou deur kos in die korporatiewe mark waar ons ’n koskoning in maatskappye aanwys en terselfdertyd ongelooflike spanbougeleenthede skep. Ek doen ook verskeie demonstrasies vir verskillende kliënte, met bestanddele soos merinolam, kanola-olie, aartappels en olywe.

Ek is ook op die punt om Sarel van Sabie se boerewors in die mark bekend te stel. En kyk maar uit op Twitter en Facebook vir Sarel van Sabie; daar is nog projekte wat nog ’n groot geheim is . . .