Ayrton, wat wyd erken word as die beste renjaer van alle tye, is op 1 Mei 1994 oorlede nadat sy motor tydens die San Marino Grand Prix op die Imola-renbaan die baan verlaat het. Hy was 34. Dit was Formule Een (F1) se donkerste naweek; die Oostenrykse nuweling Roland Ratzenberger het ook verongeluk en Ayrton se landgenoot Rubens Barrichello is beseer. “Toe ek ’n kind was, het ek al die boeke en video’s gehad; hy was die renjaer na wie ek opgekyk het,” het Lewis gesê, wat tydens Ayrton se dood net nege jaar oud was.

'Hy het my geïnspireer om ’n renjaer te word...'

“Hy het my geïnspireer om ’n renjaer te word en die dag van sy dood... sy dood was... dit was baie moeilik vir my om emosie te wys; toe gaan ek na ’n stil plek.

“Dit was eintlik ’n baie moeilike paar dae . . . My held was nie meer daar nie.”

Ayrton, die uitgesproke wêreldkampioen in 1988, 1990 en 1991, het tydens die sewende rondte in San Marino voorgeloop toe sy Williams-motor in die Tamburello-draai teen 307 km/h die baan verlaat en ’n onbeskutte sementmuur tref.

Hy het noodbehandeling op die toneel ontvang voor hy na die Bologna-hospitaal gebring is, waar hy later dood verklaar is.

“Hy was ’n ongelooflike legende. Dit is enigeen se droom om eendag op dieselfde vlak as hy erken te word,” het Lewis, die wêreldkampioen in 2008, gesê.

Fernando, die wêreldkampioen in 2005 en 2006, was 12 toe Ayrton sterf. Die Spanjaard onthou die tragiese dag nog goed.

“Ek het nie foto’s van meisies op my skoolboeke gehad nie – ek was te jonk – maar ek het foto’s van Ayrton op my boeke en in my kamer gehad,” het die Ferrari-ster gesê. “Ek het ’n groot plakkaat van Ayrton gehad, en my eerste knortjor was dieselfde kleur as sy McLaren, want my pa het ook van hom gehou. Sy dood was ’n hartseer oomblik.” Ayrton het self in die 1994-seisoen erken hy vrees vir sy veiligheid nadat daar ’n reeks tegniese veranderinge gemaak is. Die sport het in daardie stadium 12 jaar laas ’n sterfgeval gehad met Riccardo Paletti se dood in die Kanadese Grand Prix.

'Dit gaan ’n seisoen met baie ongelukke wees.'

“Dit gaan ’n seisoen met baie ongelukke wees, en ek sal dit waag om te sê dat ons gelukkig sal wees as niks ernstigs gebeur nie,” het Ayrton gewaarsku. Sy woorde het by Imola tragies waar geword.

Op die Vrydag van die wedrennaweek het Rubens se Jordan-motor ’n randsteen in die Variante Bassa-draai teen 225 km/h getref. Die motor het gerol; hy was bewusteloos. Sy neus en arm was gebreek. Toe hy in die hospitaal bykom, was Ayrton die eerste mens wat hy sien.

Sake het vererger nadat Roland die Saterdag tydens die kwalifiseringsronde ’n sementmuur getref het toe sy Simtek-motor by die Villeneuve-draai die baan verlaat. Die Oostenryker het aan sy beserings beswyk.

Ayrton se span, Williams, het geweier om deel te neem aan die kwalifiseringsronde, want Roland se dood het Ayrton diep geraak.

Die wedren self het ’n dramatiese begin gehad omdat JJ Lehto en Pedro Lamy op die wegspringrooster ’n botsing gehad het; wrakstukke het deur die lug gevlieg en verskeie toeskouers beseer.

Die veiligheidsmotor is geroep om die baan op te ruim, gevolglik het al die renjaers (Ayrton inkluis) se bande weer afgekoel terwyl hulle gewag het.

Die legendariese renjaer se ongeluk het kort daarna gebeur; dit het sy lewe gekos en die sport vir ewig verander.

Prof. Sid Watkins, die hoof van F1 se mediese span en ’n goeie vriend van Ayrton, het hom probeer oortuig om aan die wedren te onttrek.

“Ayrton het op my skouer gehuil,” het Sid in sy memoires herroep.

“Ek het hom probeer oortuig om nie die volgende dag deel te neem nie. Ek het hom gevra: Wat moet jy nog doen?

“Jy is ’n driemalige wêreldkampioen; jy is ongetwyfeld die vinnigste. Los dit nou, kom ons gaan vang vis.

“Maar Ayrton het daarop aangedring en gesê: ‘Sid, daar is sekere dinge waaroor ons nie beheer het nie. Ek kan nie ophou nie; ek moet aangaan.’”

Ná Ayrton se dood is daar heelwat veranderinge in die sport aangebring om veiligheid te verbeter.

- Dave James