Gisteraand het ons op Nege Maande gesien hoe Amoré en Riolla se babas gebore word. Ons het met hulle gesels om te hoor hoe dit nou gaan.

Drie seuns

Amoré en Dino het nog ’n seun ryker geword. Cristiano (4,4 kg), is op 31 Augustus gebore – op Amoré se pa, Christian, se verjaardag – en ook na sy oupa genoem.

Christiano is hul derde seuntjie en is danksy ’n keisersnee gebore.

“Die geboorte was nogal senutergend, maar ook baie opwindend. Om daar te lê en te weet jy gaan enige oomblik vir die eerste keer jou baba se stem hoor en hom sien! ’n Mens is maar bang wanneer die verpleegsters jou by die teater instoot omdat jy nie weet wat om te verwag en hoe dinge gaan verloop nie. Maar alles was goed en dit was ’n onvergeetlike oomblik om daardie klein bondeltjie die eerste keer vas te hou en met hom by die teater uitgestoot te word,” vertel Amoré.

Hulle het aanvanklik gehoop op ’n dogter, maar is steeds baie dankbaar vir hul pragtige seuns, André (3), Dino (1) en nou ook Cristiano (2 weke).

“Ons is baie trots dat liewe Jesus ons gekies het om drie van sy seuns groot te maak en is geseën. Ons sal definitief nie omgee om ’n bietjie pienk in die huis te hê nie, maar ons geniet al die blou, of eerder ‘camo’,” lag Amoré.

Sy vertel Christiano is baie soet en rustig. “Hy is ’n regte engeltjie en André en Dino geniet hom baie. Chris kry baie aandag en drukkies en soene word gereeld uitgedeel. Hoewel Dino nog klein is en soms ’n bietjie hardhandig is, kom hy elke keer ‘vir ’n bietjie liefde’ wanneer hy verby sy boetie loop. André wil weer sy boetie vashou en geniet dit om met sy vingertjies te speel. Ons wil graag ’n dogter hê, maar vir nou gaan ons eers die seuns geniet en kyk hoe dit gaan oor vier of vyf jaar,” sê Amoré tevrede.

’n ‘Ligstraal’ vir Shelton en Riolla

Riolla was al ’n week oor die verwagte geboortedatum van haar en Shelton se seun en moes ’n induksie kry. Klein Blake (2,98 kg) is op 11 September gebore, en dit was ’n natuurlike geboorte.

“Toe ek hoor ek moet gaan vir ’n induksie, het die werklikheid van die geboorte my getref,” sê Riolla. “Ek was die hele dag lank doodstil van pure paniek en die dokter moes my twee induksies gee. Die kraampyne wou net nie kom nie.

“Ná die tweede induksie wou ek deur die muur klim van pyn! Ek het nog nooit so seergekry in my hele lewe nie,” sê Riolla, wat 17 uur lank gekraam het.

“Ek was later so moeg en het besluit om die epiduraal te neem. Ek het talle kere in ’n diep slaap verval, dan moes die suster my met ys wakker maak. Maar alles het goed verloop, Shelton was die hele tyd langs my en so goed soos die dokter se assistent,” lag sy.

Riolla meen Blake, wat lig beteken, lyk soos Shelton. “Hy het my gelaatskleur, maar vir seker sy pa se gelaatstrekke.”

Blake is nie ’n familienaam nie.

Dit is ’n aanpassing om ouers te wees. “Ons moes ons leefstyl verander om aan te pas by die gesin wat ons begin het. Dis ’n uitdaging om die hele tyd vas te stel wat belangrik is vir Blake, maar dis ’n absolute vreugde. Shelton verkyk hom aan die klein wonderwerkie wat God ons gegee het,” sê Riolla.