Die sleutel sal vervang word met ’n selfoon-app waarvoor innoverende Bluetooth-gebaseerde digitalesleuteltegnologie ingespan word. Danksy die nuwe Volvo-app sal die digitale sleutel op die klant se selfoon alles kan doen wat ’n gewone motorsleutel tans doen, soos om die deure of kattebak oop en toe te sluit en om die enjin aan te skakel.

Lees ook: Land Rover Defender groet na 70 jaar!

Klante kan ook meer as een digitale sleutel op hul app hê om na gelang van hul vervoerbehoeftes toegang te hê tot verskillende Volvo-motors op verskillende plekke.

[post-slider]

Die app sal dit byvoorbeeld vir mense moontlik maak om enige plek ter wêreld ’n huurmotor te bespreek en te betaal en dan onmiddellik die digitale sleutel op hul foon te ontvang. Met hul aankoms kan die klant eenvoudig die huurmotor per GPS opspoor, dit oopsluit en wegry.

Volvo-eienaars sal hul digitale sleutels ook na ander mense kan stuur sodat dié ook die motor kan gebruik – dit kan familie, vriende of medewerkers by ’n maatskappy insluit.

“By Volvo stel ons nie belang in tegnologie net om tegnologie se onthalwe nie. Nuwe tegnologie moet die lewe vir ons klante vergemaklik en hulle tyd spaar. Behoeftes ten opsigte van mobiliteit groei gedurig, en so ook ons klante se verwagtinge om op ’n eenvoudige manier toegang tot motors te kry,” sê Henrik Green, visepresident van produkstrategie en voertuiglynbestuur by Volvo Cars.

Lees ook: Selfbestuur op die snelweë van Nevada

“Ons nuwe tegnologie wat digitale sleutels betref het heeltemal verander hoe ’n mens toegang kry tot ’n Volvo en hoe dit gedeel word. Pleks daarvan dat motors heeldag onbenut in parkeerterreine staan, kan hulle meer gereeld en ook doeltreffender gebruik word deur wie die eienaar ook al verkies.”

Volvo sal hul pionierswerk met hierdie tegnologie in die lente van 2016 bekendstel deur middel van Sunfleet, hul deelmotormaatskappy wat by die Göteborg-lughawe in Swede gestasioneer is. ’n Beperkte getal kommersieel beskikbare motors sal in 2017 met die nuwe digitalesleuteltegnologie toegerus word.

“Die gedeeldesleuteltegnologie kan boonop op verskillende maniere gebruik word,” het Martin Rosenqvist, nuwemotordirekteur: spesiale produkte by Volvo Cars, bygevoeg.

“Ons sien uit daarna om uit te vind hoe hierdie tegnologie in die toekoms elders gebruik kan word en ons verwelkom enige en alle idees.”

Volvo is ’n pionier wat nuwe oplossings rakende digitale sleutels betref. In 2015 het die voorste Sweedse motorvervaardiger die wêreld se eerste kommersiële aanbieding bekendgestel om aanlyn inkopies regstreeks by die motor te laat aflewer deur ’n eenmalige digitale sleutel aan ’n afleweringsmaatskappy te voorsien. Hierdie digitalesleuteltegnologie sal nou ook aan klante beskikbaar gestel word.

Gewone sleutels sal steeds aangebied word aan diegene wat dit verkies.

*Beskrywings en feite in hierdie bemarkingsmateriaal het betrekking op die Volvo-motorgroep se internasionale motorreeks. Kenmerke, soos beskryf, kan opsioneel wees. Voertuigspesifikasies kan wissel van land tot land en kan sonder kennisgewing vooraf verander.

Bron: quickpic.co.za