Nissan het pas weer die Almera in Suid-Afrika bekendgestel. Die nuweling sal meeding met bekostigbare gesinsmotors soos die Hyundai Accent, VW Polo en Kia Rio.

Net een model is beskikbaar, ’n 1,5 L-petrolenjin, maar kopers kan kies tussen ’n handrat- of outomatiese weergawe.

Die Almera lewer 73 kW krag teen 6 000 r.p.m. en sy wringkrag is 134 Nm teen 4 000 r.p.m.. Volgens Nissan is die gemiddelde brandstofverbruik vir die handratmodel 6,3 L/100 km en vir die outomatiese Almera is dit 7,2 L/100 km.

Binnelangs is die Almera ruim en Nissan maak daarop aanspraak dat dit die beste beenruimte agter en die beste bagasieruim in sy segment het.

Veiligheidseienskappe sluit in ABS-remme met EBD, dubbele lugsakke en Isofix-ankerpunte vir babastoeltjies.

Daar is talle standaardkenmerke ook, insluitende die sentrale sluitstelsel, 15-duim-allooiwiele, elektriese kantspieëls, lugverkoeling, ’n radio/CD/MP3-klankstelsel en kragstuur. ’n Driejaar/60 000 km-diensplan en Nissan se driejaar/100 000 km-waarborg is by die Almera se prys ingesluit. Pryse

  • Almera 1,5 Acenta handrat: R165 000
  • Almera 1,5 Acenta outo.: R175 500

Nissan-Almera-2 Nissan-Almera-3