Deur Helena-Marie Louw

Dit was 12 maande gelede. En hier sit ek nou met die mooiste babaseuntjie, maar 13 kg oorgewig. Vasbeslote sluit ek aan by die gimnasium.  My persoonlike afrigter lig my in dat ons eers ’n fiksheidstoets doen. Ek dink nogal ek lyk mooi styf in my ski-broek en “Dance forever”-top. Sy laat staan my op ’n skaal, neem my hartslag, meet hier en daar, en siedaar.

Kadoef! maak dit in my kop en maag toe ek na die uitslae kyk. Die fikse vroutjie verduidelik: “Jou totale liggaamsvet val in die hoogste graad.” Wat? Onmoontlik! Ek probeer skimp dat dit waterretensie moet wees, maar sy verseker my volgens die masjien-ding is my water baie laag. “Jou fiksheidsleeftyd is 37. Hoe oud is jy?” vra sy in ’n veroordelende stemtoon. “Dertig,” mompel ek met die hoop dat dit dalk soos 40 klink.

Kop onderstebo stap ek terug huis toe. Ek het gedink ek is onfiks en oorgewig, maar in die hoogste graad? Ek plak die verdomde papier teen die yskas en haal vir my ’n stuk sjokoladekoek uit met die idee dat my dieet môre begin.

Vroegoggend die volgende dag trek ek weer my “Dance forever”-T-hemp aan, sit maskara aan en stap om die res van die gim-buddies te gaan ontmoet vir boot camp. Tante Fiksheid van die gim het vir my verduidelik dis iets wat ’n mens buite doen, amper soos gimtrim, en daar is baie vroue wat dit saamdoen, en die resultate is gou en wonderlik. Perfek, dink ek, dis mos wat ek wil hê om daardie dekselse vetmeetmasjien te wys.

Dis vroeg, en daar is seker so 12 vroue. Ek gryp gou ’n wegneemkoffie en sien almal staan met bottels water en handdoekies en kyk vir my met snaakse uitdrukkings in hul oë. Ek steur my nie veel daaraan nie, want ek sien niemand het juis moeite met grimering gedoen nie; hulle is seker net jaloers.

Tante Fiksheid stap nader en die vroue begin rigting kry. Ek sluk die laaste bietjie koffie af en sluit aan by die groep. Net daar verander ons instrukteur in ’n Nazi-leier. Ons hardloop en spring en buig en wawiel en rol. Deur my swaar asemhaling probeer ek verduidelik dat my wegneemkoffie homself van my wil wegneem, maar sy skree net “Go!”. Ek sweet, my maskara loop teen my wange af, my bors brand so, ek dink dis ’n hartaanval. My voete pyn, ek soek my ma!

Een van my medespelers sien my pyn en bied my van haar water aan. Ek dink nie haar bedoeling was dat ek dit oor my kop uitgooi nie, maar ek kon nie anders nie. Daarna het sy van my af weggestaan.

Die langste halfuur van my lewe kom eindelik tot ’n einde. Dit lyk asof ek in ’n dam geval het, ek hyg soos iemand wat pas Kilimanjaro in 50 °C geklim het en dit voel asof ek al begin kontak maak met die ander kant.

Ná vyf minute se kop onderstebo staan, kom tante Fiksheid (weer haar ou self) nader en sê: “Goed so, dames, sien julle môre.” As ek nog ’n bietjie lewe in my oorgehad het, het ek haar te lyf gegaan, maar my vriende van die ander kant kalmeer my en ek begin treetjie vir treetjie huis toe stap.

Manlief vra hoe dit gegaan het, maar ek blaf net iets wat klink soos “sjjjj”. Ek stap kombuis toe en sien my dogtertjie het op my vetpersentasie-uitslag iets geteken wat lyk soos ek en sy en die baba wat nog in my maag is. Ek glimlag, want dit is vir my so mooi.

Daarna maak ek die yskas oop en haal die ander stuk sjokoladekoek uit, want die vet weet, ek het die suiker nodig.