Koekedoor is ‘n handelsmerk-uitbreiding van die gewilde program Kokkedoor, maar die fokus is die bak van produkte soos brood, koek, soetgoed, pasteie en terte.

Die nuwe reeks bestaan uit 13 episodes en elke deelnemer kry weekliks 3 uitdagings om te voltooi.

Die verskillende uitdagings gaan deelnemers se kennis en tegniek beproef, maar soos met Kokkedoor moet die deelnemers strewe na venuwing van die tradisionele. Tydens Koekedoor gaan 10 deelnemers die kans kry om drie gesogte bak-kenners as beoordelaars elke week te beïndruk en weg te stap met R200 000 kontant geborg deur Krone MCC, ‘n splinternuwe Honda CRV motor en hul eie bakboek deur Human & Rosseau.

Dié drie beoordelaars is:

Mari-Louis Guy Hierdie ma van drie het nie net al regoor die wêreld gebak en brou nie, maar is ook baie bekend as kos stilis-koek-ontwerper-skrywer- en blogger. Mari-Louis en haar broer Callie is alombekend vir hul suksesvolle resepteboeke soos Koeke ter viering van liefde en lewe (2009) Markdag (2012) en Onthaal op groot skaal (2013)

Elizabeth Cloete is vandag een van die 4 beoordelaars op die VLVK beoordelaars-paneel. Sy het ‘n Bsc-graad aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi en haar loopbaan as Biologie onderwyser begin. Dit was nadat sy en haar man hul familieboerdery in Kraaifontein oorgeneem het, dat Elizabeth met VLV kursesse begin het.

Tiaan Langenegger is bekend aan kykers as een van die wenners van Kokkedoor 1. Hy het sy Pattisserie sjefdiploma Cum Laude verower aan City and Guild. Van die ouderdom van 16 kook Tiaan al die land aan die brand en het hy al verskeie kompetisies gewen. Hy en sy Kokkedoor-maat Mynhardt is ook die aanbieders van die gewilde program Makietie op kykNET.

Koekedoor begin reeds op ‘n groot hoogtepunt met ‘n nuwe stel wat aan kykers bekendgestel word asook ‘n heerlike kinkel wat wag op die deelnemers.

Gaan die voornemende Koekedore dit maak deur die eerste uitdaging en al die bekende gaste wat oor hul skouers loer? Gaan die Bak-beoordelaars ook so beïndruk wees met die bakkers se vertolking van alledaagse, nostalgiese tuisgebak?

Skakel in vanaf 12 Maart 2015 om 20h30 op kykNET DStv-kanaal144 om uit te vind.